Lewend vir God: Nederig, ontvanklik en gehoor - 21 Augustus 2026
Louise Gevers
omdat jou hart sag is, en jy jouself voor God verootmoedig het toe jy sy woorde oor hierdie plek en sy inwoners gehoor het, ja, omdat jy jouself voor My verootmoedig, jou klere geskeur en voor my gehuil het, sal Ek ook luister,’ is die uitspraak van die Here. 2 Kronieke 34:27, 2020-vertaling
Na wie word in vandag se vers verwys, die een wat God gehoor het omdat hy homself verootmoedig het, sy klere geskeur en in die teenwoordigheid van God gehuil het? Hy was die koning van Juda, die opvolger van sy vader, Amon, wat deur sy dienaars vermoor is.
Vandat ek hom die eerste keer jare gelede tydens 'n siekbed tussen al die konings in die Ou Testament ontdek het, hou ek daarvan om oor koning Josia te lees. Om oor die bewind van die verskeie konings te lees, het my soms baie depressief gestem omdat die woorde "hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here" dikwels in die beskrywing oor 'n koning voorgekom het.
Josia was verfrissend anders.
"Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here." (2 Kronieke 34:2), hy het bewys dat hy nederig genoeg was om die verskriklike afgodediens in sy koninkryk raak te sien, en hy was ontvanklik vir teregwysing – werklik bemoedigend as 'n mens in ag neem dat hy slegs agt jaar oud was toe hy die troon bestyg het. Hy het bewys dat 'n mens nooit te jonk is om in staat te wees om 'n belangrike taak op te neem nie, selfs nie eers die belangrike een om 'n volk terug te bring na God en sy gebooie nie.
As jou hart ontvanklik is vir God se inspirasie en jy vasbeslote is om dit wat reg is in sy oë te gehoorsaam, is jou beloning dat God jou ook sal hoor. Josia se toewyding is 'n bewys van die menslike natuur op sy beste, en hy het sy merk as koning van Juda gemaak deur God bo homself te eer.
Hy het sy koninklike verantwoordelikhede ernstig opgeneem, aandag gegee aan geestelike sake en wyse besluite vir die mense geneem. Hy het die hoë plekke vernietig, die tempel herstel en die Pasga gevier. Josia het van God se geregtigheid gehoor en daarin geglo, hy het gereageer op die boekrol met die Wet toe dit ontdek is en dit ter harte geneem – ondanks sy jong ouderdom. Miskien was dit juis as gevolg van sy jeug dat hy dinge duidelik soos dit moes wees kon sien, en hy God bo alles geglo het.
Dit laat my dink aan Jesus se woorde: "Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” (Markus 10:15) Ons moet glo dat die Woord van God ook op ons betrekking het – eerlik wees met onsself, ons verkeerde dade erken, en die Heilige Gees toelaat om ons te lei om daadwerklik vir Hom te leef. Soos Josia, moet ons antwoord op God se Woord nooit slegs verstandelike kennis wees nie, maar uit die hart kom. Dit moet ons nederig stem en ons tot aksie beweeg wat ook al die koste – met vertroue dat wanneer ons dit doen God ons ook hoor.
Gebed: Here, help my om nederig te wees, myself te verootmoedig en soos Josia, gereed te wees om tereggewys te word. Hoor my wanneer ek U aanroep, in Jesus se Naam. Amen