Lewend vir God: Vertrou Hom in alle omstandighede - 20 Augustus 2026
Louise Gevers
Draai u oor na my, Here, en luister! Here, maak u oë oop en kyk! Hoor al die woorde van Sanherib wat hy met boodskappers gestuur het om die lewende God uit te tart! Jesaja 37:17, 2020-vertaling
Na wie gaan jy wanneer jy 'n oënskynlik onoorkomelike probleem het – een waar die uitkoms uit elke hoek baie somber blyk te wees?
Hiskia het so 'n onbenydenswaardige situasie in die gesig gestaar.
Die rabsakee (hoofadjudant) van die magtige Assirië was by Jerusalem se muur met 'n magtige leër – lus vir oorlog, besig om Hiskia te tart en met God te spot. Hulle het probeer om die amptenare op die muur en die mense rondom hulle te intimideer. Die volk van Juda was reeds swak en in geen posisie om die magtige vyand te konfronteer nie. Die vyand het hulle gedreig dat hulle hulle eie "ontlasting sal eet en hulle urine sal drink" (Jesaja 36:12), terwyl daar beloof is dat as hulle met die koning van Assirië " 'n ooreenkoms aangaan" (Jesaja 36:16) hulle spesiale behandeling sal ontvang totdat hulle weggeneem word na 'n land soos hulle land. Iets om na uit te sien!
Die noordelike koninkryk van Israel het reeds jare tevore aan die Assiriërs oorgegee en Hiskia het sedertdien uitgevind dat die farao se belofte om Israel te help vrugteloos was – dit het Juda sonder enige bondgenote gelaat. Menslik gesproke het Hiskia nêrens heen gehad om hom te wend nie; maar hy was nie 'n koning sonder hoop nie.
Jesaja het geprofeteer dat die Assiriërs nie Jerusalem sou vernietig nie. (Jesaja 10:24-27) Hiskia het nou na God gedraai en Hom vertrou om hulle in hierdie haglike situasie te help. Hy het God se grootheid en sy eie swakheid erken, homself verneder sy klere geskeur, 'n roukleed omgehang en na die tempel gegaan. (Jesaja 37:1) Hy het 'n boodskap aan Jesaja gestuur en hom gevra om te bid "ter wille van die res wat nog oorgebly het." (Jesaja 37:4)
Sonder Hiskia se wete het God reeds begin om sy gebed te beantwoord, selfs terwyl hy in die geloof volhard en by God gepleit het om hulle te verlos.
“Moenie bang wees vir die woorde wat jy gehoor het ..." (Jesaja 37:6) was die welkome woorde wat Hiskia van die profeet terugontvang het. God het reeds 'n plan gehad vir die ondergang van die Assiriërs en om Juda te verlos.
As ons weet hoe magtig God is, weet ons ook dat daar nie met Hom gespot moet word nie – nie toe nie en ook nie nou nie. Soos Hiskia kan ons ons ook tot Hom wend in moeilike tye. Ons leef ook in 'n wêreld waar sommige mense min agting vir God het en feitlik geen respek vir die lot van ander nie. Soos Hiskia, voel ons ook soms dat ons ons nêrens kan draai of daar is 'n probleem om te oorkom of 'n vyand om mee rekening te hou nie – siekte, 'n behoefte, 'n aanval of miskien die groot vyand – tyd.
Selfs ons beste planne loop soms skeef, en dit is moeilik om te weet waarop om eerste te fokus. Miskien het iemand wat jy vertrou jou in die steek gelaat en jy moet nou die stukke optel, maar God is in beheer en ons moet slegs in die geloof na Hom draai en Hom vertrou om ons te help – alles tot sy eer en verheerliking.
Gebed: Here, wees ons genadig! Op U wag ons. Wees elke oggend ons krag, ja, ons verlossing in 'n tyd van nood." (Jesaja 33:2) U is ons God. Op U alleen vertrou ons. Amen