Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Vertrou God en hou vas aan Hom - 19 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie. 2 Konings 18:5, 1983-vertaling
 
Baie jare gelede het koning Hiskia tydens 'n Bybelvasvra vir die jeug vir my 'n groot verleentheid veroorsaak. Ek het nie die Ou Testament baie goed geken nie, en het in antwoord op 'n vraag gesê Hiskia is 'n boek in die Bybel – terrwyl hy inderdaad onvergelykbaar tussen die konings van Juda was. "Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg." (2 Konings 18:3)
 
Tydens 'n siekbed was dit vir my moontlik om meer oor sy bewind te leer en het ek ontdek net hoe getrou en regverdig hy was.
 
Die skrywer van die Koningsboeke noem dat dit die geval was omdat "Hy het aan die Here vasgehou en nie van Hom weggedraai nie. Hy het sy gebooie, dit wat die Here Moses beveel het, nagekom." (2 Konings 18:6, 2020-vertaling) Hierdie was iets wat Hiskia baie ernstig opgeneem het. Sy vader, Agas, het Dawid se nalatenskap van regverdigheid verwerp, en sy bewind eerder gebou volgens die voorbeeld van die konings van Israel wat die afgode van die Kanaänietiese godsdienste aangehang het – nou nie juis 'n goeie voorbeeld vir hom nie.
 
Hiskia was definitief nie 'n geval van "die appel val nie ver van die boom nie". Hy het van al die afgodsbeelde ontslae geraak – die hoogtes, die klippilare en die gewyde pale – en selfs van die koperslang wat Moses in die woestyn gemaak het. Dit was bedoel om mense te herinner wie om te aanbid, maar nou het dit 'n voorwerp van aanbidding geword en is selfs 'n naam gegee: Negustan.
 
Hiskia het die gebooie wat God aan Moses gegee het, geken. Hy het ook verstaan om hulle te gehoorsaam beteken niks as hulle nie aanvaar en heelhartig uitgeleef word nie – net soos Jesus later in die Bergpredikasie (Matteus 5) sou leer, en Paulus later sou ondervind en verkondig. Die letter van die Wet sonder die gees van die Wet is nie geregtigheid nie. Die vervulling van God se weë was nooit bedoel as 'n stel reëls wat aangehang moet word sonder liefde, begrip of genade vir ander nie.
 
Ons hoef nie ver te soek na die afgode van ons tyd nie – dit floreer. Afgode is enigiets wat ons hart en tyd oorheers en bo God in ons lewe gestel word – enigiets waarop ons ons volkome toespits. Ons hoef net te kyk hoe ons ons geld en tyd bestee om te besef wie of wat die belangrikste vir ons is en aan ons identiteit, sekuriteit en waarde gee.
 
Hiskia se verhaal daag ons uit om te vra wat is ons eie "Negustan" – goeie dinge, selfs Godgegewe dinge, wat stil-stil plaasvervangers vir God geword het. Mag ons, soos Hiskia, die moed hê om alles te verwyder wat in ons harte met God meeding om eerste plek en aan Hom vashou, nie bloot deur uiterlike aanhang nie, maar deur heelhartige toewyding. Mag ons Hom vertrou bo alle vals sekuriteit wat hierdie wêreld ons bied.
 
Gebed: Hemelse Vader, ek vertrou op U alleen. Help my om altyd te doen wat reg is in u oë en enige "Negustan" in my lewe te verwerp. Amen
 
Next article: Lewend vir God: Antwoord op sy stem - 18 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.