Lewend vir God: Antwoord op sy stem - 18 Augustus 2026
Louise Gevers
Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. 1 Samuel 3:19, 1983-vertaling
Het jy enige kinderherinneringe van wakkerskrik laat in die nag, stil lê met al die naggeluide om jou, bang vir daardie onherkenbare geluide? Ek was op 'n keer so bang dat ons ou huishorlosie 13 sou slaan en dat iets baie vreemd sou gebeur.
Ek kan my net indink hoe jong Samuel gevoel het toe hy een nag in die tempel gelê en gehoor het hoe iemand hom by die naam roep – drie keer – in 'n stem wat hy nie geken het nie. Hy het in die tempel onder Eli gedien en twee keer het hy na Eli toe gehardloop omdat hy gedink het die ou priester het hom ontbied. Die derde keer het Eli egter besef dit was God wat geroep het, en hy het vir Samuel gesê om te antwoord: "Praat, Here, u dienaar luister!” (1 Samuel 3:9)
Watter ontsaglike ondervinding moes dit nie vir Samuel gewees het nie. Hy het God gedien, maar hy het nog nooit sy stem gehoor nie. Hy was gewoond aan die daaglikse rituele, maar hy het nog nooit 'n persoonlike boodskap ontvang nie. Eli was daar om hom te onderrig. Eli se geestelike onderskeidingsvermoë – ten spyte van sy mislukkings as 'n vader en leier – was nodig om Samuel te lei oor hoe om nederig te antwoord.
"Praat, Here, u dienaar luister”, getuig van Samuel se nederigheid en bereidwilligheid om aandag te gee aan God se opdrag nog voordat 'n enkele woord gespreek is. God se woorde aan Samuel het toe sy eerste toets van Samuel se integriteit en gehoorsaamheid geword, omdat wat God vir hom gesê het nie maklik was vir hom om te herhaal nie.
Samuel het egter nie probeer om sy eerste opdrag te ontduik nie.
Alhoewel dit 'n moeilike boodskap was oor die oordeel oor Eli se gesin – een wat Samuel na 'n lang, rustelose, slapelose nag, bang was om oor te dra – het Samuel, toe Eli hom beveel het om te praat, niks teruggehou nie.
In vandag se vers lees ons dat die Here by Samuel was toe hy grootgeword het en dat Hy "nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie" – alles wat Samuel namens God gesê het, is bewaarheid. Om dié rede het hy bekend geword as iemand wat vertrou kon word om die woord van God getrou te verkondig. Sy vermoë om van jongs af met aandag te luister en getrou te reageer, het hom tot seën vir Israel gemaak.
God praat vandag steeds, alhoewel nie noodwendig in 'n hoorbare stem nie. Ons hoor Hom deur sy Woord, deur gebed, deur die stille leiding van sy Gees, of soms deur die wysheid en leiding van ander verder op die geloofspad as ons, soos die geval van Eli vir Samuel. Om stil in sy teenwoordigheid te wees is moeilik, veral as ons so baie het om na Hom te bring – maar dit is belangrik om hierdie stilte aan te kweek sodat ons waarlik kan luister en reageer.
Hoe gaan God vandag met jou praat – deur 'n besluit, 'n verhouding, deur iets wat jy te besig was om op te merk? Gaan jy voor Hom stil word, geduldig luister en dapper genoeg wees om te reageer op wat Hy ook al vra?
Gebed: "Tot U, Here, rig ek my, my God, op U vertrou ek." (Psalm 25:1-2a) "Leer my u wil, Here, en lei my op 'n gelyk pad ..." (Psalm 27:11) Amen