Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewendig vir God: Die hart se toestand - 24 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. Esegiël 36:26, 1983-vertaling
 
Wat sal ons sonder 'n hart doen? Wat is ons sonder 'n hart? Of dit nou letterlik of figuurlik is, ken ons nie reeds die antwoord nie?
 
Die hart klop ongeveer 'n 100 000 keer per dag en sowat twee tot drie miljard keer in 'n gemiddelde leeftyd. Ons harte rus nooit en dit hou ons aan die lewe. Nie net dit nie – ons glo dat ons emosies uit ons harte voortvloei en dat ons gemoedstoestand bepaal word deur hoe ons daarop reageer. In antieke Israel het hierdie bewustheid die hele innerlike self – verstand, siel en waardes – ingesluit. Hoe ons ook al daarna kyk, wanneer ons harte gelukkig is, is ons gelukkig. Maar beteken dit noodwendig dat ons reg is met God?
 
Salomo herken dat 'n persoon se aksies 'n refleksie is van wat in sy hart is, en hy verstaan dat 'n persoon met integriteit weet hoe om 'n balans tussen die twee te hou. Oor die hart waarsku hy ons: "Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe." (Spreuke 4:23) Die daaropvolgende vers erken ons vermoë om tussen reg en verkeerd te kan onderskei en daarvolgens te kies: "Bly weg van 'n mond wat valsheid verkondig, en slinkse lippe, hou dit ver van jou." (Spreuke 4:24, 2020-vertaling)
 
Dikwels begin dit by 'n insinuasie, dan word die waarheid 'n bietjie verdraai, 'n geheim word met smaak oorvertel en dit het dan 'n geskinder tot gevolg – alles dinge wat reëlreg indruis teen die gebod om God bo alles lief te hê en jou naaste soos jouself – wat die vuur aansteek waarna Jakobus in sy brief verwys.
 
Wat het met God se volk gebeur dat hulle harte so verhard is dat Hy beloof om dit met harte van vleis te vervang?
 
Doodeenvoudig, afgodediens was die oorsaak.
 
In die bergrede (Matteus 5) verwys Jesus na die "armes van gees", "dié wat treur", "die sagmoediges", "dié wat honger en dors na geregtigheid", "die barmhartiges", "dié wat suiwer van hart is", "die vredemakers" en "dié wat vervolg word", en Hy noem hulle gelukkig. Dit is duidelik dat hulle diegene is wat die geestelike sensitiwiteit eie aan die "hart van vleis" uitleef: teerheid, genade, 'n liefde vir vrede, gewillig om op te staan vir geregtigheid en ontvanklik is vir God – alles kwaliteite wat die Israeliete verloor het.
 
Die bergrede is 'n portret van hoe 'n hart daaruit sien as dit nuut gemaak is, en dit is presies wat God aan sy volk in ballingskap beloof het: nie beter gedrag nie, maar 'n hart wat volkome verander is. 'n Sagte hart wat daartoe in staat is om oor die sonde berou te hê, wat honger na geregtigheid en genade kan betoon, is nie die gevolg van slegs wilskrag nie – dit vereis volkome oorgawe. Ons kan slegs die hart wat ons het na Hom toe bring, hoe verhard ook al, en Hom toelaat om te doen wat slegs Hy kan.
 
Gebed: Genadige Here Jesus, verwyder asseblief my hardkoppigheid en my weerstand teen u wil. Gee asseblief aan my 'n hart van vleis – sagmoedig, genadig, een wat waarlik aan U behoort. Amen
Next article: Lewend vir God: Nederig, ontvanklik en gehoor - 21 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.