Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Gekonfronteer met farao's - 14 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Die Israeliete het vir hulle gesê: “As ons maar deur die hand van die Here in Egipteland gesterf het toe ons by die vleispotte gesit en ons versadig geëet het aan brood! Maar julle het ons na hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele gemeenskap van honger te laat sterf."  Eksodus 16:3, 2020-vertaling
 
Op die dag toe God Moses geroep het om namens Hom met die farao te gaan praat om sy volk te laat gaan, het Moses seer sekerlik nie besef dat dit maar net die begin was van baie jare van moeilike konfrontasies waar hy namens God moes praat nie. Trouens, sy roeping was nooit tot een saak beperk nie. Sonder dat hy geweet het, sou sy eie mense wat gewag het om bevry te word, keer op keer teen hom draai met al hulle klagtes, verwyte en twyfel.
 
Ons kan ons maar net voorstel dat dit God se hand op Moses en Moses se toenemende geloof in Hom was, wat hom staande gehou het toe hy God se vereistes en ultimatums moes gaan oordra aan die farao – wat trots en magtig was en geweier het om die waarheid van God te hoor. Onwillig om God se volk te laat gaan, het die farao hardkoppig die versoek teëgestaan. Ten spyte van al die tekens en wonders wat voor hom geplaas is, het hy, eerder as om nederig te wees, net voortgegaan om trots bo wysheid te kies en sy hart te verhard.
 
Op verskeie maniere het die Israeliete soos 'n tweede farao in Moses se lewe geword. Soos farao, het hulle God se tekens en wonderwerke gesien; en soos hy het hulle God teëgestaan – nie so direk soos die farao nie, maar deur hulle gekla. Trouens, die gebeure in vandag se teksvers moes soos 'n klap in die gesig vir Moses gevoel het na die reuse onderneming wat hy aangepak het. Hy het getrou God se opdragte oorgedra om hulle veilige vertrek uit die land van slawerny te verseker, onmoontlike logistiek genavigeer en hy kon getuig van 'n ongeëwenaarde ontsnapping van die farao en sy leer – alles deur God se genade en guns.
 
“Is dit omdat daar geen grafte in Egipte is nie, dat jy ons saamgeneem het om in die woestyn te sterf?" (Eksodus 14:11a), het die Israeliete gesê toe angs begin inkruip. Toe hulle nie water in die woestyn kon kry nie en die by Mara bitter was, het "die volk ... teenoor Moses gemor en gesê: “Wat moet ons drink?” (Eksodus 15:24)
 
"Die hele volksvergadering van die Israeliete het teen Moses en Aäron gemor in die woestyn." (Eksodus 16:2) en weer het God voorsien. Hy het vir hulle in die oggend brood uit die hemel gestuur en in die aand kwartels as vleis voorsien, maar hierdie keer sodat Hy "hulle kan toets of hulle [sy] wet sal volg of nie." (Eksodus 16:4) Hulle ondankbaarheid, twyfel en kort geheue, was op 'n manier net so uitputtend as die farao en sy strydwaens.
 
Tog het Moses beide op dieselfde manier hanteer – hy het nie wraak geneem nie, maar keer op keer hom tot God gewend. Hy het vir die volk ingetree eerder as om hulle te verlaat. Hy het hulle bly herinner aan wat God vir hulle gedoen het, hoop eerder as wanhoop uitgeleef. En hy het hulle klagtes na God gebring eerder as om die las alleen te dra.
 
Wanneer ons "farao's" moet konfronteer – siekte, werkloosheid, verhoudingsprobleme, familietwis, finansiële laste, ons eie klagtes, twyfel en mismoedigheid – hou ons aan om terug te keer na God? Hy is die God van die onmoontlike, vertrou Hom.
 
Gebed: Almagtige God, help ons om in ons geloof te groei wanneer ons ons "farao's" na U bring en sien hoe U die onmoontlike doen. Amen
Next article: Lewend vir God: Groei in geloof en wysheid - 13 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.