Lewend vir God: Groei in geloof en wysheid - 13 Augustus 2026
Louise Gevers
Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Eksodus 14:13, 1983-vertaling
Die Moses in vandag se vers staan vas en moedig die Israeliete aan tot dapperheid en geloof, baie anders as die Moses van gister wat God gesmeek het om hom van sy Godgegewe roeping vry te stel. Sedert daardie oomblik van swakheid het hy so baie van God se werking in en deur hom ervaar dat hy nou weet God is getrou en in staat om alles te doen. Moses kan nou met vertroue en in waarheid oor Hom praat.
Nie net was Moses die een wat sy kierie oor die see uitgestrek het sodat die waters wonderbaarlik teruggetrek en die volk droogvoets deurgelaat is nie, maar hy moes ook 10 keer met die magtige farao onderhandel en hom waarsku oor die plae wat God oor Egipte sou stuur as die farao geweier het om Hom te gehoorsaam en sy volk te laat gaan. Gehoorsaamheid, moed en uithouvermoë het Moses hierdie doel laat bereik, en sy geloof het gegroei en met elke ontmoeting hy hy God se boodskap oorgedra in die wete dat "wie die Heilige ken, het werklik insig". (Spreuke 9:10)
Die Spreuke-boek sê dat "kennis begin met die dien van die Here" maar voeg dan by dat "dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag" (Spreuke 1:7) – 'n diepgaande, dog rasionele oorweging wanneer ons oor die implikasies daarvan nadink. Hierdie waarheid het hom duidelik uitgespeel in die gebeure tussen Moses en die farao. Waar Moses se geloof deur gehoorsaamheid gegroei het, het die farao herhaaldelik geweier om hom te onderwerp en het toenemend opstandig geword – tot nadeel van homself en sy volk.
Ons houding oor hoe ons leef, is op enige ouderdom of stadium werklik belangrik omdat ons in 'n toekoms moet leef wat deur ons keuses en aksies bepaal word. Wanneer ons min aandag aan wysheid gee, stel ons onsself oop vir moontlike hartseer en probleme wat lank kan duur en letsels agterlaat. Maar om God se kennis en grootheid te eer, stel ons in staat om te groei – soos ons meer oor sy wysheid leer en aanhou om daarin te groei, sal God ons toerus om goeie keuses te maak wat 'n bevredigende, goeie lewe tot gevolg sal hê – alhoewel dit hier op aarde nooit volmaak sal wees nie.
Jakobus sê: "As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt." (Jakobus 1:5)
Anders as die farao, waar wysheid duidelik voor hom geplaas is en hy dit geweier het, word ons uitgenooi om eenvoudig daarvoor te vra – en God sal dit sonder voorbehoud gee. God is onveranderlik. Wat Hy vir Moses gedoen het, kan Hy vandag ook vir ons doen.
Gebed: Hemelse Vader, ek benodig u wysheid. Dankie dat "die wysheid wat van Bo kom, is ... vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte ..." (Jakobus 3:17) Gee dat die groei van my geloof en vertroue in U steeds deur hierdie kwaliteite gevorm sal word, alles tot eer van u Naam. Amen