Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Vertrou en gehoorsaam Hom - 12 Augustus 2026

Louise Gevers 

Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”  Eksodus 4:13, 1983-vertaling
 
Ek het een oggend vroeg wakker geword en toe ek my foon aanskakel om te kyk hoe laat dit is, het 'n foto op die skerm verskyn van 'n bevrore meer in Kanada waarop ek op 'n keer geloop het – met 'n blink oppervlakte en krake wat reeds duidelik was. In die donkerte het daardie gevoel van besorgdheid en onsekerheid teruggekom wat ek ervaar het toe ek versigtig op die meer geloop het, alhoewel die ys nooit heeltemal gekraak het of 'n werklike gevaar was nie.
 
Miskien is dit die gevoel wat ons ervaar wanneer ons op God se stem reageer en in geloof 'n tree gee, maar meer op ons eie vermoë as sy groot krag konsentreer. Ons sien die krake, maar slegs God weet hoe diep onder die ys die kraak is; Hy is in beheer en Hy is die Een op wie ons moet fokus.
 
Moses het 'n geloofskrisis gehad.
 
God het hom baie duidelik geroep om met die farao te gaan praat en vir hom te sê om God se volk te laat gaan. Maar noudat die tyd aangebreek het om te gehoorsaam, het Moses se moed hom begeef. Hy het reeds gesê: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?” (Eksodus 4:1)
 
Moses het toe sy storie verander na: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie ... Ek praat swaar, en my tong sukkel. (Eksodus 4:10) Selfs toe die Here hom verseker dat dit die krag van God is wat in hom werk, en dat hy net gewillig en getrou moet wees, is Moses steeds onseker.
 
Uiteindelik, ondanks al die wonderlike tekens wat God hom in staat stel om met sy kierie te doen, en ondanks God se belofte om hom te help om te praat, toe Hy sê: "Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê” (Eksodus 4:12) vra Moses steeds vir God om asseblief tog iemand anders te stuur. (Eksodus 4:13) Dit is toe dat die Here kwaad word.
 
Dit is duidelik dat wanneer God iemand vir 'n opdrag kies, verander Hy nie van mening omdat die die persoon wie Hy gekies het, onbevoeg is nie. God is nie bekommerd oor iemand wat stotter, of na jare in die woestyn 'n gebrek aan afgeronde vaardighede toon nie. Hy verlang 'n gewillige hart vol vertroue en 'n gehoorsame gees – want Hy sal alles voorsien wat nodig is om die taak uit te voer.
 
Hou aan om op God te fokus, sy plan te vertrou en wees gewillig om te gehoorsaam – dit is wat benodig word om daardie eerste tree in die geloof te gee en ons heelhartig aan ons Almagtige God toe te wy – ongeag ons swakhede.
 
Wat is jou verskonings?
 
Waar gaan God vandag toelaat dat jou geloof en toewyding aan Hom getoets word?
 
Gebed: Here God, help my om bewus te wees dat U by my is, dat om aan U toegewy te wees en U te vertrou, die doel van my lewe is. Gee dat ek dit wat U aan my gee tot u eer sal gebruik. Amen
Previous article: Lewend vir God: Groei in geloof en wysheid - 13 Augustus 2026 Prev Next article: Lewend vir God: Godvresend, moedig en onbesonge - 11 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.