Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Godvresend, moedig en onbesonge - 11 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Maar die vroedvroue het vir God ontsag gehad en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat leef. Eksodus 1:17, 2020-vertaling
 
Verlede Sondag, Nasionale Vrouedag, het Suid-Afrikaners die 20 000 vroue herdenk wat gemarsjeer het om te betoog teen die paswette wat hulle vryheid van beweging ingekort het, en om die onderdrukking deur die regerind en die volgehoue stryd van vroue te beklemtoon.
 
Teen alle verwagting in, het vroue deur die jare baie moed in haglike omstandighede getoon en volhard hulle steeds in gevalle van gesinsgeweld en swaarkry, ongelykheid en onregverdige behandeling in die werkplek. Sommige is enkelma's wat vir hulleself en hulle kinders moet sorg, almal slagoffers van ongeregtigheid. Die meeste is onbesonge helde.
 
Vandag bespreek ons twee vroedvroue, Sifra en Pua, uit die tyd van antieke Egipte wat moedig die koning se bevel geïgnoreer het en so die Hebreeuse volk in staat gestel het om te vermeerder en te floreer. Die Hebreeuse vroedvroue is deur die Egiptiese koning beveel om Hebreeuse babseuntjies by geboorte dood te maak – 'n wrede opdrag aan hierdie vroue vir wie die lewe en welstand van hierdie babas uiters belangrik was. Hierdie opdrag is gebore uit vrees vir die groeiende Hebreeuse bevolking.
 
Vrees – dikwels die motivering om te vlug of te veg – sal heel waarskynlik eerder nederigheid en integriteit by 'n Godvresende persoon inboesem – iets wat hulle moontlik meer bewus van hulle afhanklikheid van God sal maak en hulle laat bewe wanneer hulle besef hoe groot dit wat van hulle verlang word, is. Kom daar nie 'n tyd vir elkeen van ons wanneer ons in 'n verkeerde situasie is, God aanroep en 'n keuse moet maak nie?
 
Hierdie bewonderenswaardige vroue het God gevrees, en was toegewyd aan hulle roeping lank voor die Tien Gebooie in ontvangs geneem is. Aangesien hulle onwillig was om alles wat goed en waar is in hulle roeping en wat lewe gebring het te verwerp, het hulle nie die koning van Egipte gehoorsaam nie, maar eerder God eerbiedig, sy beginsels onderhou en Hom en hulle naaste geëe. Hierdie vroedvroue het nederig en moedig gedien, nie vir hulp en erkenning van enigiemand gevra nie, maar snags het hulle in vrede geslaap met die wete dat hulle God eerbiedig het deur Hom met oortuiging te dien.
 
Ons hoef nie erkenning te ontvang nie; God weet in wie se harte sy waardes leef.
 
Jesus sê in Lukas 17:10: "Dieselfde geld vir julle: Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ”
 
Hoe staan sake met jou? Hoe dien jy?
 
Die woorde van Frances Ridley Havergal se 1877-lied help ons om die getrouheid van ons eie harte te ondersoek:
 
“Who is on the Lord’s side? Who will serve the King?
Who will be His helpers other lives to bring?
Who will leave the world’s side? Who will face the foe?
Who is on the Lord’s side? Who for Him will go?”
 
Gebed: Hemelse Vader, help my om U met eerbied, nederigheid, integriteit, moed en geloof te dien. Amen
 
Previous article: Lewend vir God: Vertrou en gehoorsaam Hom - 12 Augustus 2026 Prev Next article: Lewend vir God: Wanneer God jou by die naam roep - 7 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.