Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Wanneer God jou by die naam roep - 7 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Daarop sê Hy: “Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Moses het sy gesig bedek, want hy was bang om na God te kyk. Eksodus 3:6, 2020-vertaling
 
Moses is gebore in 'n vroom gesin uit die huis van Levi, in 'n tyd wat gevaarlik was vir Hebreeuse seuns in Egipte, en tog was hy bevoorreg en sy lewe reg van die begin buitengewoon. Soos sy lewensverhaal verloop, kan ons sien dat die hand van God op hom was. Moses het by geboorte ontsnap van verdrinking danksy die dapper vroue wat God meer gevrees het as die farao en sy bevel om alle Hebreeuse seuntjies by geboorte dood te maak.
 
Jogebed, sy ma, het daarin geslaag om hom vir drie maande weg te steek, en toe het sy suster, Mirjam, naby die Nyl wag gehou oor die biesiemandjie om hom veilig te hou. Sy het selfs gewaag om Jogebed vir farao se dogter as 'n Hebreeuse pleegma vir die seuntjie aan te bied om hom te versorg totdat hy groter was en as 'n Egiptiese prins opgegroei het. En Jogebed is selfs daarvoor betaal.
 
As enigiemand dink 'n persoon is te oud om die Here te dien, dink aan Moses wat 80 jaar oud was toe hy weer van God se teenwoordigheid bewus geword het, lank nadat hy uit Egipte gevlug het toe hy 'n Egiptenaar wat 'n Hebreër geslaan het, doodgemaak het. 'n Bos wat gebrand het – maar nie verteer is nie – het sy belangstelling gewek. Uit dié bos het God hom geroep alhoewel hy net 'n nederige wagter was wat na sy skoonpa se kleinvee in Midian omgesien het.
 
Moses was oorweldig met ontsag en vrees toe God aankondig wie Hy is. In lig van God se heiligheid was hy onmiddellik bewus van sy eie sonde en onwaardigheid omdat hy sy eie mense in die steek gelaat het, en Moses het sy gesig bedek. God het geweet dat Moses gereed was om te hoor wat Hy van hom verlang.
 
Vir Moses wat kleinvee in die middel van nêrens opgepas het, die energie van die jeug lank reeds verby, klink dit wat hy hoor onmoontlik. Wie was hy om na die farao te gaan om hom te vra om die Israeliete uit Egipte te laat trek? Maar God ken ons, waar ons vandaan kom, wat ons nou doen en wat Hy van ons verlang wanneer Hy ons roep.
 
“Wie is ek, dat ek na die farao kan gaan," was 'n nederige en realistiese selfevaluering en belangrik vir die doel wat God vir Moses se lewe gehad het. Soos die brandende bos, sou God se krag in Moses werk om dit waarvoor hy geroep is te bereik. Wat God van Moses verlang het, was 'n gewillige hart en volkome gehoorsaamheid aan Hom. Al wat Moses nodig gehad het was God.
 
God roep steeds mense by die naam uit onmoontlike plekke, ongeag ouderdom, vermoë, onbekendheid of kwalifikasies. Waar kan God jou vandag by die naam roep? Sal jy, soos Moses, God se stem hoor, sy heiligheid erken, en vertrou dat sy teenwoordigheid al is wat jy nodig het?
 
Gebed: “Wie is soos U onder die gode, Here? Wie is soos U, majestueus in heiligheid, ontsagwekkend in lofwaardige dade?" (Eksodus 15:11) U is al wat ek nodig het. Gee aan my 'n gewillige hart en volkome gehoorsaamheid om U te dien. Amen
Previous article: Lewend vir God: Godvresend, moedig en onbesonge - 11 Augustus 2026 Prev Next article: Lewend vir God: Bewus van sy seën - 6 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.