Lewend vir God: Bewus van sy seën - 6 Augustus 2026
Louise Gevers
Maar die Israeliete was vrugbaar en het vermenigvuldig; hulle het vermeerder en besonder talryk begin word. Die land was vol van hulle. Eksodus 1:7, 2020-vertaliing
Seën, soos genade, is iets wat volkome met gee en ontvang geassosieer word, iets wat gedeelde vreugde, oorvloed en guns tot gevolg het. Volgens God se voorbeeld, seën ons mekaar deur vrygewigheid, wat soms selfs 'n slegte situasie kan verander. Hoeveel te meer nie is die impak op mense se lewens wanneer die seën direk van God kom? Die vraag is of ons altyd van Hom bewus is en ontvanklik is vir sy seën?
'n Persoon mag God se seën in sy hart ondervind, alleen met Hom gedurende sy stiltetyd of saam met ander in 'n erediens, een in hart en gees. Of 'n mens mag onverwags eer of erkenning ontvang wat jou geestelik, fisies of materieel verryk, hoop bring en jou geloof laat groei. Salomo skryf: "Die seën van die Here – dit is wat ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie." (Spreuke 10:22) Hy beklemtoon God se genadepad na ware rykdom en geluk, iets wat ons gewoonlik vir onsself net deur harde werk kan bekom.
'n Bewys van sy wonderbaarlike grootheid vind ons in die kleinste dingetjies in die natuur – maar ook in die ontsaglike, soos berge, wolkformasies en uitgestrekte woestyne – dit alles laat ons met groot ontsag voor ons God staan. Hy is oorvloedig in sy skepping van die wêreld en hoe Hy met vernuf elke deeltjie volmaak laat inpas. Hy hou niks terug nie en dit is duidelik dat sy weg vrugbaar is en sy seën oorvloedig, in gehalte sowel as hoeveelheid.
Waarom verbaas dit ons dat, alhoewel in 'n vreemde land, die Israeliete, God se uitverkore volk, vrugbaar was en deur sy seën voorspoedig? Hy was die bron van hulle welstand en Hy het hulle sterk gemaak selfs toe hulle geluk later gedraai het en hulle gely het onder 'n nuwe farao "wat nie van Josef geweet het nie." (Eksodus 1:8)
God is vandag nie anders nie.
Wanneer ons onsself in "'n vreemde land" bevind, letterlik of figuurlik, is Hy steeds God en ons is steeds "die kleinvee wat Hy laat wei." (Psalm 100:3) Hy bring blydskap en waarheid aan al sy kinders waar hulle hulle ook al mag bevind, in moeilike tye wanneer hulle bang, moedeloos en teneergedruk voel, of in goeie tye wanneer alles voorspoedig gaan. Ongeag, ons word geseën om tot seën te wees, en wanneer ons ons seëninge tel, ontdek ons net hoe genadig God teenoor ons is, en ons floreer.
Sy grootste seën is egter Jesus Christus, sy Seun, wat gesterf het sodat almal vergifnis van sonde kan ontvang en die ewige lewe kan hê. Verbind aan Hom, die ware Wynstok, laat God se kinders floreer want Hy gee alles sodat hulle baie vrug kan dra en "selfs in die woestyn sal [Hy] 'n pad maak, in die wildernis riviere." (Jesaja 43:19)
Gebed: Genadige Vader, skenk asseblief aan my genade, wysheid en toenemend meer van u Gees sodat ek deel kan hê aan die blydskap wat u seëninge deur Jesus Christus, ons Here, aan hierdie wêreld gee. Amen