Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Geseënd en gelukkig in Hom - 5 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Gelukkig is elkeen wat vir die Here ontsag het, wat sy paaie volg! Die vrug van jou hande sal jy beslis geniet. Gelukkig is jy! Dit gaan goed met jou. Psalm 128:1-2, 2020- vertaling
 
Wanneer dink ons vir 'n oomblik waarlik oor God na – sy onfeilbare liefde, getrouheid, geregtigheid, goedheid en regverdigheid – sonder om oorweldig te word deur die omvang van wie Hy is? Soos Job, dink ons miskien ons weet baie oor God, en tog voel ons dat ons nooit ten volle sy grootheid of die diepte van sy verhouding met ons sal begryp nie.
 
Hy is liefdevol en vrygewig teenoor ons en ons word elke oggend slegs deur sy genade wakker. Sy skepping is uitsonderlik mooi en in dit sien ons iets van sy grootsheid en skoonheid wat weerspieël word in alles wat Hy gemaak het. Geen kunstenaar, hoe begaaf ook al, kan dit ooit oortref nie. Ons lewens is veel groter as om net op onsself en ons behoeftes en begeertes te fokus – Hy gee ons 'n rede om te leef en bly te wees oor die wonder van wat Hy ons in staat stel om te doen.
 
Ons verwonder ons oor sy grootheid en die wonder van sy handewerk – in die natuur, in onsself, in situasies wat ons beleef – en deur dit alles leer ons om te glo, te vertrou en te groei in die wete dat Hy al is wat ons nodig het.
 
Elke goeie gawe wat ons ontvang, kom van God. Hy seën die wêreld deur wat Hy aan ons gee, sodat ons ook ander tot seën kan wees. En aan elkeen wat Hom ken – "wat sy paaie volg" – gee Hy meer: geloof om op Hom te vertrou, en moed om in daardie vertroue te handel.
 
In ons land, waar werkloosheid hoogty vier, weet ons wat die waarde van 'n werk beteken en is ons dankbaar dat ons ons Godgegewe vaardighede en talente vrugbaar kan gebruik – maar selfs wanneer ons dit doen, is dit Hy wat vir ons voorsien en ondervind ons blydskap en sy seën.
 
En dit is deur sy krag alleen dat ons geseën word om ons kinders se kinders te sien – klein handjies wat na ons uitreik, gesiggies wat ons lewens verryk, aansteeklike laggies en baba geluidjies wat ons harte smelt – alles teen 'n tyd waar ons oor baie jare in geloof en begrip gegroei het om uiteindelik so 'n wonderwerk te kan waardeer vir wat dit is.
 
Mag ons vandag, terwyl ons sy paaie volg, volkome bewus wees van al ons seëninge.
 
Gebed: Genadige Vader, gelukkig is die een wat vir U ontsag het, want deur gehoorsaamheid aan u Woord gee U sekuriteit, stabiliteit en vreugde. U is ons Skepper en ons weet dat ons lewe in u hande is; dat ons aan U verantwoording verskuldig is en dat ons lewe 'n doel het. Hou my asseblief in die palm van u hand. Amen
Previous article: Lewend vir God: Bewus van sy seën - 6 Augustus 2026 Prev Next article: Lewend vir God: Gebed uit die hart - 4 Augustus 2027 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.