Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Gebed uit die hart - 4 Augustus 2027

Louise Gevers
 
Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het. 1 Kronieke 4:10, 1983-vertaling
 
Wat steek in 'n naam? Wat lê in 'n gebed opgesluit?
 
As jy per toeval afkom op Jabes se aangrypende verhaal wat tussen die name in die genealogiese lyste in 1 Kronieke skuil, sal jy ontdek dat beide 'n naam en gebed baie beteken. God het Jabes se vurige gebed beantwoord en sy lewe verander. God het Jabes se verhaal slegs in twee versies laat aanteken vir ons om te ontdek en oor na te dink – 'n herinnering dat Hy onveranderlik is en steeds met deernis die opregte gebede van mense in lyding hoor en daarop reageer.
 
In die antieke Nabye-Oosterse kultuur, anders as ons s'n, bevat 'n persoon se naam 'n geestelike element wat van belang is om hulle identiteit en karakter te definieer; en dit was 'n swaar las vir Jabes. Sy naam is aan hom gegee omdat sy moeder by sy geboorte baie gely het. Regdeur sy lewe is hy konstant herinner aan die pyn wat hy vir haar veroorsaak het. Uiteindelik het Jabes se lyding hare oortref.
 
Tog is sy storie wonderlik. Hy het geweier dat sy somber lewe hom definieer. Jabes draai nie weg van God nie, inteendeel, hy soek al hoe meer na Hom. Op die vasgestelde tyd roep hy uit sy diepste wese in geloof na God en sê: "vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my" sodat uiteindelik geen smart hom kan tref nie. En God doen dit. Hy verander die koers van Jabes se lewe namate Hy sy grense verbreed en hom geseën het.
 
Deur hierdie verse openbaar die Bybel God se beginsels, sy genade en deernis – waarvan ons op ander plekke in die Skrif ook lees – wat presies ooreenstem met Jesus se deernisvolle reaksie wanneer mense in hulle nood na Hom geroep het. Hulle is ook nie teleurgestel nie.
 
Om ons in moeilike tye tot God te wend is normaal, en, soos Jabes, ly ons ook. Miskien spook ons name nie by ons nie, maar ons lyding is werklik en God sien dit raak; om ons geloof te koester terwyl ons ons pyn aanvaar, is egter die sleutel tot die ontwikkeling van 'n diepgaande verhouding met God. Wanneer ons ons behoeftes bely en ons waarlik tot Hom wend, sal ons ontdek dat Hy "deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink." (Efesiërs 3:20) Ons sal nie teleurgestel word nie.
 
Waarheen neem jy die behoeftes van jou hart? Is jy gereed om soos Jabes te bid?
 
Gebed: Genadige Hemelse Vader, daar is niemand soos U wat my hartseer kan sien en my diepste behoeftes ken nie. Ek kom nederig tot U. In u groot genade wees my genadig sodat ek u seën kan ondervind wanneer U my grondgebied vergroot en onheil van my weerhou sodat geen smart my tref nie. Amen
Previous article: Lewend vir God: Geseënd en gelukkig in Hom - 5 Augustus 2026 Prev Next article: Lewend vir God: Heelhartig en doelbewus - 3 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.