Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Heelhartig en doelbewus - 3 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Met my hele hart soek ek U; laat my tog nie afdwaal van u bevele nie. In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie. Psalm 119:10-11, 2020-vertaling
 
Om lewend vir God te wees, beteken dat 'n mens bewus is van wie Hy is en sy teenwoordigheid en werke in alle aspekte van jou lewe verwelkom; sy grootheid erken en die krag van sy denke, woorde en inspirasie verwelkom. Dit beteken dat soos Hy ons lei ons diepste wese aktief daarop reageer, wetende dat ons slegs bestaan omdat Hy bestaan.
 
Om God deur sy geskrewe Woord te ontdek, is 'n verrykende ontdekkingsreis wat ontvou namate ons die Lewende Woord leer ken en oor Hom nadink. Hy ontsluit 'n nuwe lewe, 'n nuwe uitkyk en daarmee saam nuwe uitdagings. Verveeldheid verdwyn en in volgehoue aanraking met ons Skepper, Verlosser en Heer beleef ons dinge – geestelik en fisies – op 'n manier wat ons nooit gedink het ons sou nie.
 
Ongeag wie ons is, God is ons Skepper wat in staat is om ons op die regte pad te lei.
 
Hy het vir ons die Bybel as 'n skat gegee om te koester. Nie net is dit 'n wonderlike openbaring van God regdeur die geskiedenis nie, maar dit is die onveranderlike ewige liefdesverhaal van God vir sy kinders deur die eeue, en manne en vroue, soos ek en jy, se ervarings van Hom.
 
Elke ervaring wat deur die eeue oor hierdie individue aangeteken is, gee waardevolle insig in die aard van God en die mensdom. Dit is 'n kleurvolle weerspieëling van hulle lewens en dit is geen verrassing dat deur hulle gedagtes en aksies ons onsself dikwels herken, veral wanneer hulle, soos ons, soms dink dat hulle in beheer van 'n situasie is.
 
Soos ons met mense uit alle lae van die samelewing in aanraking kom, sien 'n mens hoe God se krag in alle omstandighede aan die werk is, en hoe, deur elkeen se reaksie op Hom, sy stem gehoor of geïnoreer word. God verander nooit, maar mense verander wel, en hulle aksies getuig van hulle verhouding met hulle Skepper en hulle medemens.
 
Dit is ontsagwekkend en uitdagend. Deur sy gebooie heelhartig te onderhou, groei ons in gehoorsaamheid en geloof. Om God se stem te verwerp beteken dat ons die rug draai op Hom, sy wysheid, inspirasie en onderrig wat Hy so mildelik aan die soekende siel bied.
 
Ons moet ontvanklik wees, die Heilige Gees toelaat om ons te oortuig van dit wat in ons moet verander en ons moet Hom doelbewus gehoorsaam.
 
Kom ons reis saam in die maand wat voorlê en ontdek die lewens van helde van die geloof terwyl ons opreg ons eie lewe ondersoek.
 
Gebed: "Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel. Van geslag tot geslag duur u trou ... As u wet nie my vreugde was nie,sou ek in my ellende vergaan het. Tot in ewigheid sal ek u opdragte nooit vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak." (Psalm 119:89,90a,92-93) Amen
 
Previous article: Lewend vir God: Gebed uit die hart - 4 Augustus 2027 Prev Next article: Alles kom van God af - 31 Julie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.