Is wat ek doen, genoeg? - 3 Junie 2026
Ben Fourie
Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: "Ons het die Messias gekry!" Messias beteken Christus. Johannes 1:41
Die Afrikaanse skrywer Hennie Aucamp is een van my groot gunstelinge. Onlangs lees ek weer sy boek genaamd “Bly te kenne”. Hy skryf oor verskillende besonderse persoonlikhede wat hy geken het. Een van hulle was Lucy Roux by wie hy dikwels gekom het. Sy was 'n baasbakster en mens van vele talente.
Toe sy 98 jaar oud word, het Hennie haar besoek en by die geleentheid het sy iets gesê wat hom baie diep laat dink het. Haar woorde aan hom was “Wat het ek met my lewe gemaak? Gebrei en terte gemaak, maar is dit nou genoeg?” Sy het inderdaad baie meer gedoen as terte bak en breiwerk doen, maar hier op 'n hoë ouderdom tog vir haarself afgevra of sy die lewe voldoende benut het.
Die vraag meld hom deesdae ook al meer by my aan. Wat het ek met my lewe gedoen en wat is ek nog steeds besig om daarmee te doen, veral ook op geestelike gebied? Soos Lucy Roux wil ek ook vra of my kerkbywoning, my Bybellees, my bydraes vir behoeftiges en al die dinge nou genoeg is? Gelukkig meet God nie my sukses as 'n gelowige aan hoeveel ek gedoen het nie. Hy gebruik 'n ander kriteria.
Op 'n dag staan Johannes die Doper en twee van sy volgelinge by die Jordaan waar Johannes mense gedoop het, toe Jesus daar verbykom. Johannes wys na Hom en sê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Die twee het toe vir Jesus gevolg. Daarna het Andreas, een van die twee, sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê. “Ons het die Messias gekry.”
Om Christus volkome in jou lewe te kry, is meer as genoeg. Daarna hoef jy nooit weer te vra: “is wat ek doen nou genoeg nie.” Jy sal uit dankbaarheid in elk geval alles doen wat moontlik is.
Gebed: Hemelse Vader ons bely vandag dat ons nooit genoeg kan doen om ons dankbaarheid te wys nadat U ons uit die kwaad verlos het nie. Amen