Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Geluk of geloof - 2 Junie 2026

Ben Fourie
 
“Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Matteus 17:20, 1983-vertaling
 
Jare gelede toe Namibië nog Suidwes-Afrika genoem is, word daar in 'n klein dorpie 'n skoolkermis gehou. Synde 'n boeregemeenskap is daar ook skyfskiet op die program. Oom Dippenaar, 'n Namakwalander wat toe al jare lank daar boer, klop selfs die jongmanne en wen 'n skaap. By die oorhandiging sê die skoolhoof vir hom “Baie geluk oom.” Die oom se antwoord was in tipiese Namakwalands “Dit is nie geluk nie meester, dit is kangeid”. Om so te kon skiet was inderdaad nie geluk nie, maar 'n vermoë, 'n “ek kan dit doen” wat deur baie jare se oefening bereik is.
 
Bogenoemde teks in die Bybel het my nog altyd baie laat dink, nie omdat ek aan die juistheid daarvan twyfel nie, maar omdat dit vir my so totaal onmoontlik lyk dat so iets ooit kan gebeur. Om vir 'n berg te sê om homself tot op 'n ander plek te verskuif en dit gebeur, sal beslis baie meer as geluk vra, maar tog ook nie “kangeid” nie.
 
Geloof is nóg geluk nóg kangeid. Ek kan inderdaad nie fisies oefen om berge te verskuif nie en net so min kan ek my geloof oefen tot by die punt waar ek berge kan verskuif. Geloof is iets wat jy het of nie het nie. Jy kan dit nêrens aanleer nie en ook nêrens daarvoor oefen nie. Dit is en bly altyd 'n genadegawe van God.
 
Jesus bedoel hier sekerlik nie dat mense links en regs moet loop en berge rondskuif nie, maar gebruik hierdie ekstreme voorbeeld om vir ons te illustreer wat 'n ongewone saak geloof werklik is. As ek glo, is niks op geestelike terrein meer vir my onmoontlik nie.
 
Oom Dippenaar en sy kangeid het my lewensmotto geword. Om sukses te behaal, het ek besef ek moet nie op geluk staatmaak nie, maar op oefening en harde werk – behalwe as dit by geloof kom. Hoe meer ek daar oefen en hoe harder ek werk, so het ek ervaar, hoe meer raak ek soos die dissipels; kleingelowig.
 
Hoe minder ek op geloofsterrein op myself staatmaak, hoe sterker word my geloof.
 
Gebed: Baie dankie dat U ons die geloof skenk al verdien ons dit nie en al kan ons nie daarvoor werk of oefen nie. Gee dat ander mense wat ons geloof sien ook daarna sal hunker. Amen
 
Previous article: Is wat ek doen, genoeg? - 3 Junie 2026 Prev Next article: Dit slaan jou asem weg - 1 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.