Dit slaan jou asem weg - 1 Junie 2026
Ben Fourie
Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vir ons, wie kan teen ons wees?
Onlangs, tydens 'n vakansie, sien ek in die woonstel waar ons gebly het die bekende spreuk van die Amerikaanse skrywer, digter en aktivis, Maya Angelou, teen die muur. “Meet die lewe nie deur die aantal kere wat jy asemhaal nie, maar deur die aantal kere wat jou asem weggeslaan word”. Spreuke soos hierdie kan na baie gebruik ietwat gemeenplasig word, maar tog het dit my weer getref as 'n groot waarheid, ook wat ons geloof betref.
Die Bybel se boodskap slaan eenvoudig 'n mens se asem weg elke slag wat jy dit lees, maar nie almal ervaar dit so nie. Die afgelope maande was daar talle briewe in koerante waar mense die hele kwessie van geloof erg aangeval het. Hulle is nie net teen die Christelike geloof gekant nie, maar teen enigeen wat hoegenaamd in 'n God glo.
Nadat ek so baie van die briewe gelees het, was ek effens moedeloos, en het myself afgevra wat dit is wat my nog laat glo. Baie mense sien ateïsme as die nuwe “geloof” en ervaar dit as uiters bevrydend om nie meer in God te glo nie. Die briefskrywers se trant van skrywe het my selfs die gevoel laat kry dat hulle neersien op ons wat nog so outyds is om in God te glo.
Soos wat ek daaroor gedink het, het ek egter al meer tot die besef gekom dat my asem nog elke dag weggeslaan word deur wie God is en hoe die Bybel vir ons van Hom vertel. As ons na die wêreld rondom ons kyk, ja ook na diegene wat ons geloof minag, dan weet ons volgens bogenoemde vers onwrikbaar dat, al sou die hele wêreld teen ons wees – God is vir ons. Slaan dit nie ook jou asem weg nie?
Gebed: Ons dank U Here, dat ons altyd kan weet U is aan ons kant, al sou die hele wêreld teen ons wees. Amen