Gryper of gewer - 4 Junie 2026
Ben Fourie
Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud, propvol, sal hulle in julle hande gee. Lukas 6:38a
Ons het gister by een van Hennie Aucamp se sketse stilgestaan. Vandag kyk ons na nog een uit dieselfde boek. Weer eens 'n gesprek, hierdie keer met Lenie Schoeman. Op 'n stadium sê sy vir hom: “Daar is mense wat neem en gryp, my kind, maar die ander soort is nog altyd daar: dié wat gee.”
Gryper of gewer. Watter een is ek? Besittings en geld is ter sprake, maar ook tyd, aandag en liefde. Belangrik is ook waarom ek gee. Soms is die gee van iets eintlik maar net omdat ek iets terug verwag – dan is ek eintlik 'n gryper en nie 'n gewer nie. Gee moet onvoorwaardelik wees.
Johannes Kerkorrel sing: “Gee, gee, gee, jou hart vir Hillbrow” In die woord “hart” lê die kern van die begrip “gee”. Neem sommer as voorbeeld die motorwag by die winkelsentrum. As ek vir hom of haar 'n fooitjie in die hand stop om so gou moontlik van hom/haar ontslae te raak, is dit vir my niks werd nie.
As “gee” nie uit die hart kom nie is dit 'n leë gebaar.
Wanneer ek met die regte gesindheid uit die hart gee, beloof God dat ons ook tot oorlopens toe sal ontvang. Luister na die beeldspraak in sy belofte “’n goeie maat, ingestamp, geskud, propvol.” Dit laat my aan my kinderdae dink toe ek graag gekyk het hoe die gedorste koring in die sakke gegooi en die sakke geskud is totdat hulle propvol is. As ek onvoorwaardelik en oorvloedig met liefde uit my hart gee, sal ek ook voluit van God ontvang, onvoorwaardelik.
Paulus praat in 2 Korintiërs 9 vanaf vers 1 oor hulpverlening aan die gelowiges. In vers 7 lees ons God het die blymoedige gewer lief. Wat meer kan ons vra?
Gebed: Help my asseblief om meer ingestel te wees om te gee as om te ontvang. Help my om te gee omdat my hart vol dankbaarheid is vir die nuwe lewe wat U aan my gegee het. Amen