Aan die voete van die Koning - 27 Mei 2026
Imogen Campbell
“Ek is 'n Joodse man, gebore in Tarsus in Silisië, maar het grootgeword in hierdie stad. Ek is opgevoed aan die voete van Gamaliël – streng volgens die wet van die voorvaders. Ek is net so 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Handelinge 22:3, 2020-vertaling
Die hooggeagte apostel Paulus is die een wat die woorde hierbo eeue gelede geuiter het. Alhoewel hy gebore is in wat vandag moderne Turkye is, is hy in Jerusalem aan die voete van die beroemde rabbi Gamaliël, opgevoed.
Paulus, het dus deeglik geweet hoe dit is om aan die voete van 'n groot leermeester van die Woord te sit en van hom te leer. Dit was wat diegene gedoen het wat belanggestel het om deel van die godsdienstige orde van Israel te wees. Paulus was een van die bestes.
Daar is 'n ander Bybelgedeelte (Lukas 10:38-42) waar Maria, suster van Martha, aan Jesus se voete sit. Sy het geweet waar sy moes wees, en dit was nie om huiswerk te doen of gasvry te wees nie, maar om eerder die Koning van alle konings in haar midde te vereer.
Ek het al so baie preke gehoor wat dit laat klink het of dit 'n geval van Martha versus Maria was: huistake versus kuier met Jesus. Om eerlik te wees, dit het my skuldig laat voel want my reaksie sal dieselfde as die van Martha wees.
Ek sal ook wil hê dat alles perfek moet wees wanneer Jesus kom kuier. Ek sal definitief aan die kleinste detail aandag gee soos enige goeie gasvrou geneig is om te doen, en soveel te meer, as 'n mens 'n idee het dat dit die Messias self is wat by jou huis kom besoek aflê.
Maar Martha word in beslissende woorde vertel dat Maria die beste deel gekies het. Laasgenoemde was honger vir die Woord van God en gretig om te leer. Interessant genoeg, die Bybel sê nie vir ons of enige van die susters getroud was nie. Hulle was wel selfversorgend. Dit is selfs opgeteken dat Martha Jesus in haar huis verwelkom het.
Dit is moontlik dat vir Martha haar identiteit en waarde gelê het in haar vermoë om te onthaal en gasvry te wees. En wie kan haar blameer. En tog moes sy hoor dat Maria 'n beter deel gekies het. Laasgenoemde het aan die voete van Jesus gaan sit en vrede gevind.
Een was angstig en ontsteld, die ander 'n toonbeeld van vrede. In die lig daarvan, het Maria definitief die beter deel gekies. Wat sê jou keuses van jou? Is jy uitgeput en angstig, of vol vrede aan die voete van die Koning?
Gebed: Liewe Heer, ons prys U dat ons, net wanneer ons wil, deur u Woord aan die voete van die grootste Leermeester kan sit. Dankie dat u Woord vandag vir ons so toeganklik is. Amen