Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Gekruisigde voete - 28 Mei 2026

Imogen Campbell
 
Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Lukas 24:39, 1983-vertaling
 
Ek het eers onlangs gelees en toe nagedink oor die ooreenkoms tussen Jesus se kruisiging en die rituele tydens die priesterwyding in vervloë dae.
 
Tydens die priesterwyding is bloed aan die regteroorlel, regterduim en regtergroottoon van die priester gesmeer. (Levitikus 8:23-24) Jesus is geslaan, gekruisig en daar is 'n doringkroon op sy kop geplaas – bloed op die oor – terwyl spykers deur sy hande en voete geslaan is. 'n Verwysing na Jesus, die groot Hoëpriester.
 
Ongewone duisternis het oor Jerusalem gekom die dag wat Christus gekruisig is. Die oomblik toe Jesus gesterf het, het die aarde begin skud, rotse het uitmekaar gebars en grafte het oopgegaan. Dankie tog, die gelowiges wat in die grafte was het eers na Jesus se opstanding begin om in die stad aan mense te verskyn. Hoe vreemd moes dit nie gewees het nie.
 
Maar daardie dag, aan die voet van die kruis, het die Romeinse offisier wat Jesus bewaak het, gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” (Markus 15:39) 'n Rowwe Romeinse soldaat se oë het oopgegaan – Jesus se dood het reeds begin om 'n impak te hê. Maar waar was sy vriende? Die mans met wie Jesus sy laaste dae op aarde gespandeer het, het omtrent almal gevlug toe Hy gearresteer is.
 
In Max Lucado se boek, "No wonder they call him the Savior", wonder hy waar die dissipels was toe dit donker geword het. Hoe het hulle daardie naweek deurgebring?
 
Lucado skryf: “It certainly was an awkward position in which to be. Caught on that uneven ground between failure and forgiveness. Suspended somewhere between ‘I can’t believe I did it.’ and ‘I’ll never do it again.’ Too ashamed to ask for forgiveness, yet too loyal to give up. Too guilty to be counted in, but too faithful to be counted out.” [Dit was definitief 'n ongemaklike posisie om in te wees. Vasgevang tussen mislukking en vergifnis. Êrens tussen 'Ek kan nie glo ek het dit gedoen nie' en 'Ek sal dit nooit weer doen nie.' Te skaam om vergifnis te vra, maar tog te lojaal om op te gee. Te skuldig om ingesluit te word, maar te getrou om uitgesluit te word." – vrye vertaling]
 
Tog het die impak van Jesus se lewe en dood die dissipels weer bymekaar gebring – en hulle het vergifnis en herstel gevind. Jesus het hulle twyfel geblus deur sy hande en voete vol merke aan hulle te wys.
 
Baie van hulle is later gemartel. Hulle het miskien daardie nag in Getsemane gestruikel, maar hulle het daardie mislukking op sy kop gedraai en 'n pad gebaan wat ons vandag steeds volg.
 
Die Passie van Christus, die groot Hoëpriester, het nie opgehou om 'n onmeetbare impak te hê nie.
 
Gebed: Here, dankie vir u genade. U het ons lief en koester geen wrok nie, en daarom kan ons keer op keer na U toe draai wanneer ons struikel, iets wat ons so geneig is om te doen. Amen
 
Next article: Aan die voete van die Koning - 27 Mei 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.