Hardloop na Jesus toe - 26 Mei 2026
Impogen Campbell
Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Markus 10:17, 1983-vertaling
Hierdie man het die regte houding gehad. Sommige mag dit as teatraal beskou, om so te hardloop en voor Jesus se voete neer te val. Was hy nederig? Nie vir my om te oordeel nie, maar hy het gekniel voor God wat vlees geword het – die God wat sy hart geken het.
Hy het vir Jesus gesê dat hy sedert sy jeug die Wet onderhou het. Die Bybel sê Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry.
Ek vind dit interessant dat Jesus hom uitgedaag het oor die een ding wat sy hart gevange gehou het: rykdom. Nie net het die jongman neergekniel nie, maar hy het toe ook baie teneergedruk geword – en hy het bedroef van Jesus weggegaan. Van almal wat Jesus ontmoet het, is hierdie jongman die enigste een van wie die Bybel duidelik sê dat hy bedroef weggegaan het.
Daar is nog 'n man wat gehardloop het, Saggeus. Hy was kort en met 'n nie te goeie reputasie nie, maar hy het gehoor dat Jesus na sy dorp toe kom en hy het 'n uitkykpunt gesoek om Hom te sien. Hy het na 'n wildevyeboom gehardloop en hy het Jesus ontmoet. Jesus het vir Saggeus gesê dat Hy daardie dag na sy huis toe sou kom.
In Lukas 19:8 lees ons dat Saggeus gewillig was om sy besittings weg te gee: "Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”
Een persoon bly en die ander een bedroef. Wat van jou, waar staan jy? Is daar iets in jou lewe wat, as Jesus jou daaroor uitdaag, jy bedroef gaan voel?
Dit wil voorkom of die jongman 'n deeglike godsdienstige opvoeding gehad het – van kleins af is hy die wette geleer, moontlik deur toegewyde ouers. Maar skynbaar het rykdom ongelukkig sy aardse lewe oorheers.
Saggeus, aan die ander kant, se pad na Jesus was minder roemryk. As 'n tollenaar is hy deur die mense verag. In hulle oë was hy 'n groot sondaar. Selfs op daardie dag het hulle loop en brom oor hoe sondig hy was.
Ek glo dit is nie hoe jy begin nie, maar hoe jy reageer wanneer jy van aangesig tot aangesig met die lewende God kom. En Hy het ontelbare hulpbronne wat Hy mildelik uitgiet oor diegene wat erken dat hulle geestelik bankrot is, en Hom dan kies. Jesus het op 'n keer gesê: “Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele." (Matteus 5:3, 2020-vertaling)
Gebed: Hemelse Vader, help ons met ons harte wat soms afdwaal. Gee dat ons altyd op die uitkyk sal wees vir afgode wat ons ewige verhouding met U bedreig. Amen