Plekke waar Jesus geloop het - 11 Mei 2026
Imogen Campbell
So sê die Here: “Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank van my voete. Waar is die huis wat julle vir My sou bou, en waar is my rusplek? Jesaja 66:1, 2020-vertaling
Ongeag dat Hy die Skepper van hemel en aarde was, het Jesus verkies om sy aardse lewe op 'n klein stukkie grond te leef. In sy boek "Jesus the same", skryf Charles Eward Jefferson: "It was an obscure and rural country, small in territory and insignificant in prestige, and yet the Prince of Glory confined himself to this corner of the earth.” [Dit was 'n klein, obskure landjie van byna geen belang, en tog het die Prins van Heerlikheid Homself tot hierdie uithoek van die aarde beperk. – vrye vertaling]
Gebore in Betlehem, het hierdie beroemde Galileër 'n groot deel van sy lewe as skrynwerker in Nasaret, 'n afgeleë dorpie, gebly. Hy het egter ook tyd in stede, dorpe en gehuggies oral oor die Heilige Land deurgebring.
Betanië is waar Jesus Lasarus uit die dood opgewek het, en in die woestyn het Hy 40 dae en nagte deurgebring en is daar deur die duiwel versoek. Die Jordaanrivier is die plek waar Hy deur Johannes gedoop is. Sommige van die gebeure was onvergeetlik, ander het plaasgevind in onverbiddelike terrein, maar alles was van geestelike belang.
Jerusalem, die geliefde stad waar God sy Naam gevestig het, was ook die plek van Jesus se uiteindelike offer. Vasbeslote het Hy voortgegaan en nooit afgewyk van sy missie om die verlossing van sondaars te verseker nie. En eendag, het Hy belowe, sal Hy terugkom na die aarde en "op daardie dag sal sy voete staan op die Olyfberg, wat voor Jerusalem aan die oostekant lê" (Sagaria 14:4), die presiese plek vanwaar Hy vertrek het.
Maar voor daardie dag aanbreek, het Hy ons geroep om Hom te volg, nie in sy fisiese voetstappe nie, maar op die manier wat Hy geleef het. Ons is geroep om met Jesus te wandel en te leef. (1 Johannes 2:6) God het Jesus die Eersgeborene onder baie gemaak, met die doelwit om ons na sy gelykenis te verander.
Ons is werklik bevoorreg dat dit vir ons moontlik is om, as sy beelddraers, Jesus te kan reflekteer – 'n kenmerk van diegene wat hulle dae deurbring om soos Jesus te leef. Hierdie God-mens is egter die moeilikste voorbeeld om na te volg. Dit neem 'n leeftyd van leer. Petrus som dit so mooi op: "Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle 'n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg. (1 Petrus 2:21)
In Christus het God ons 'n volmaakte voorbeeld gegee om na te volg sodat ons godvrugtige lewens kan lei wat Hom sal verheerlik.
Gebed: Here, dankie dat U gekom het om vir ons 'n voorbeeld te wees. U het gekom, mens geword en die kruis vir ons verduur. Ons loof U, ons wonderlike Verlosser. Amen