Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Staan vas wanneer dinge verkeerd loop - 12 Mei 2026

Imogen Campbell

 
Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het.  Kolossense 2:15, 2020-vertaling
 
Voor die oorwinning van die kruis het Jesus letterlik bloed gesweet toe Hy in die tuin van Getsemane voor die Vader in gebed gekniel het. Hy het geweet wat op Hom wag, was gewillig, maar het tog gevra dat die beker miskien by Hom kon verbygaan.
 
Ek kan my nie indink dat enige mens 'n dood sou verwag wat so pynlik is nie. Dit is veral verskriklik want Jesus was volmaak – totaal sonder sonde. Selfs Pilatus het verstaan dat afguns die rede was vir diegene wat Jesus dood wou hê.
 
In "And the angels were silent", skryf Max Lucado: "He knows what it is like to be plotted against … He knows what it is like to be torn between two desires … And, perhaps most of all, he knows what it’s like to beg God to change his mind and to hear God say so gently, but firmly, “No”. [Hy weet wat dit is as daar 'n komplot teen jou gesmee word ... Hy weet wat dit is om tussen twee begeertes verskeur te wees ... En miskien, bo alles, weet Hy wat dit is om God te smeek om van plan te verander en dan te hoor hoe God saggies, maar beslis, nee sê. – vrye vertaling]
 
Ons almal verkies daardie ongelooflike "bergtopondervindings" van die lewe wanneer oorwinning so seker lyk, maar dit is nie die realiteit nie. Die "valleie" verskyn soms van nêrens af nie – nuus van 'n motorongeluk, 'n diagnose wat ons plat slaan, eintlik alle soorte rampe en ellende.
 
Hoop voel dan nutteloos; gebede blyk onbeantwoord te wees. Die wurggreep van Satan is onhanteerbaar. Angs oorheers ons harte. Ons kan ons skaars daartoe bring om in wonderwerke te glo, of ons aan God oor te gee. Ons bly fokus op die vreesaanjaendste gedagtes wat deur ons koppe maal.
 
Tog, die God-mens het self die vallei van duisternis beleef, op 'n manier wat nie een van ons geroep is om dit te beleef nie. Jesus het geweet wat Hy moes verduur om dit waarvoor Hy na die wêreld gekom het, te vervul. Hy het doelgerig gebly. Hy was onwankelbaar in sy toewyding aan God en aan die visie van ons verlossing.
 
Daardie dag op Golgota het alles verlore gelyk. Satan mag dalk gedink het hy het die oorwinning behaal, maar God was nog nie klaar nie. Opstandingsondag het verseker Satan die aapstuipe laat kry.
 
Miskien is dit tyd dat ons ons onoorkomelike probleme of hindernisse heroorweeg. Miskien is alles nie verlore nie en is dit tyd om nog 'n keer daaroor te bid. God oorwin steeds. Wonderwerke is ook vir vandag.
 
Gebed: Hemelse Vader, U het u Seun toegelaat om te ly sodat ons gered kan word. Dankie daarvoor en vir al die oorwinnings wat danksy die kruis behaal is. Amen
 
Next article: Plekke waar Jesus geloop het - 11 Mei 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.