Tot sy eer: Die goeie en die slegte - 24 Februarie 2026
Lauren Appolis
Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.Psalm 23:6, 2020-vertaling
Dit is maklik om die goedheid en troue liefde van God te erken wanneer dit met ons goed gaan. Lofprysing kom dan maklik, ons getuig van dankbaarheid, en gee sonder huiwering al die eer aan God. Maar wanneer beproewinge kom, voel lof dikwels soos 'n opoffering – want, as ons eerlik wil wees, ons voel nie altyd soos Dawid dit in hierdie psalm beskryf nie.
Nogtans, liewe vriend, God moet steeds al die eer ontvang. Nie omdat ons goeie omstandighede beleef nie, maar omdat Hy God is. Hy beloof nie sy goedheid en troue liefde net vir sekere dae of tye van ons lewe nie, maar vir al ons lewensdae.
Job het dit goed verstaan. In Job 1:21, na al die verlies wat hy gely het, loof hy God steeds net omdat Hy almagtig is. Job het sy rykdom, sy hele bestaan, sy gesondheid en sy kinders verloor – nogtans sê hy: "Die Here het gegee en die Here het geneem. Mag die Naam van die Here geprys word!" Dit is moeilik om sulke lof in die aangesig van soveel pyn te begryp. Maar Job leer ons dat hy God bo alles stel wat hy gehad het, steeds het of reeds verloor het. God was steeds werd om geprys te word omdat Hy steeds goed is.
In lig hiervan, verkry Dawid se woorde in Psalm 23:6 'n dieper betekenis. Nie elke dag voel goed nie, maar God is goed. Nie alle tye is maklik nie, maar God bly getrou. Sy goedheid en getroue liefde hang nie af van hoe die dag verloop nie – dit is net daar, teenwoordig in elke oomblik van ons lewe.
Wat nog meer vertroostend is, is die volgende: ons hoef nie God se goedheid en troue liefde na te jaag nie, dit volg ons. Dit vind ons waar ons ookal is.
Soms is al wat ons nodig het 'n verandering van perspektief – om te kies om God te verheerlik vir wie Hy is, selfs wanneer ons omstandighede dit anders wil hê.
Of jy jou nou aan die tafel van oorvloed bevind, of in die donkerste dieptes van die lewe, onthou: God is goed. En sy goedheid en getroue liefde volg jou elke dag van jou lewe.
Inderdaad, alle eer behoort aan ons God wat goed is – vir altyd.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat u goedheid en getroue liefde my altyd volg. Help my om dit te onthou, ondanks watter omstandighede ek ookal beleef. Gee dat U in alles verheerlik sal word. Amen