Tot sy eer: Hande en voete - 23 Februarie 2026
Lauren Appolis
Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 1 Johannes 3:18, 1983-vertaling
Ek het onlangs 'n gesprek gehad wat my lank daarna bygebly het. Iemand het met my gedeel hoe sy voel sy word misbruik deur mense wat voorgee dat hulle haar liefhet. Sy het gesê: "Mense sê hulle het jou lief, maar hulle het jou nie lief vir wie jy is nie – hulle het jou lief vir jou hande, vir dit wat jy vir hulle kan doen."
Ek het vir 'n ruk daaroor nagedink. Dit het na die pynlike waarheid geklink. So dikwels meet ons ons waarde aan bruikbaarheid en nie aan wie ons is nie. Die wêreld versterk hierdie opvatting en ons is voortdurend besig om onsself te beskerm, motiewe te bevraagteken en defensief te leef om te verhoed dat ons nie uitgebuit word nie.
Terwyl daar grense gestel moet word, het die Heilige Gees, my denke verander terwyl ek nagedink het oor die woorde van my gespreksgenoot: "... hulle het jou nie lief vir wie jy is nie – hulle het jou lief vir jou hande." Liewe kind van die Here, is dit nie juis die punt nie?
Was Jesus self nie 'n dienaar nie? Het Hy nie sy dae deurgebring deur in mense se behoeftes te voorsien, siekes te genees, hongeriges te voed en sy lewe vir ander op te offer nie? Hy het die hande geword, die Een waardeur die goedheid en voorsiening van God tasbaar op aarde geword het.
Jesus het Homself verneder om ander te dien sodat God verheerlik kon word. So wie is ons om erkenning te verwag vir dit wat ons doen? Ons tyd op aarde is nie om raakgesien te word nie, maar om getrou en gehoorsaam te wees. Ons word uitgenooi om die hande en voete te wees waardeur ander die Here kan ontmoet en sy koninkryk op aarde bevorder kan word. God alleen moet verheerlik word. En dit is 'n eer om Hom te dien.
Ja, dit is menslik om na erkenning te verlang, en ons moet wysheid aan die dag lê wanneer vrygewigheid misbruik word. Maar die Bybel leer ons om eers die koninkryk van God te soek (Matteus 6:33), en ons in nederigheid te onderwerp sodat God ons op die regte tyd kan verhoog. (1 Petrus 5:6)
Wat 'n voorreg is dit nie om die koninkryk van God te dien nie – om sy werktuig te wees. Mag ons elke oomblik wat God ons gee gebruik om sy hande en voete wees, sodat harte tot Hom aangetrek sal word.
Siele wat vir Christus gewen is, maak veel meer saak as wat ons eie erkenning ooit sou kon.
Gebed: Here, help my om nooit te vergeet wat my doel op aarde is nie. Open my oë vir elke geleentheid om te dien, en verwyder uit my hart die begeerte vir eiebelang. Help my om, soos Jesus, te dien en lief te hê, tot u eer alleen. Amen