Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die hart: Tot rus - 20 Februarie 2026

Lauren Appolis
 
Kom weer tot rus, my siel, want die Here het goed gedoen aan jou. Ja, U het my lewe van die dood gered, my oë van trane, my voete van struikeling. Ek mag leef in die teenwoordigheid van die Here, in die land van die lewendes. Psalm 116:7-9, 2020-vertaling
 
Uit hierdie Bybelgedeelte leer ons iets baie diepgaande oor die hart. In Psalm 116:7 praat die psalmdigter met sy siel, hy nooi dit uit om tot rus te kom. Terug te keer ... asof dit tydelik van die huis af weggedwaal het. Is dit nie mooi nie? Dit dui daarop dat ons hart se natuurlike toestand rus is.
 
Hierdie perspektief bied vertroosting want dit herinner ons daaraan dat alles wat ons harte voel wat teenstrydig is met rus, tydelik van aard is. Enigiets wat rus teëstaan – angs, vrees, oorweldiging – is teenstrydig met wat God vir ons bedoel. Daar is 'n duidelike bybelse grondslag hiervoor wanneer 'n mens besef hoe dikwels God ons uitnooi om in Hom te rus. (Matteus 11:28; Jesaja 26:3; Filippense 4:6-7)
 
Dawid sê dat ons hart tot rus moet kom, die toestand waarin dit bestem is om te wees. Wat hy in Psalm 116:8 sê, klink asof grondingstegnieke betrokke is. Raadgewers gebruik grondingstegnieke om diegene wat paniek of angs ervaar te help deur hulle te vra om dinge wat werklik en teenwoordig is – dit wat hulle kan sien, hoor of aanraak – hardop te noem. Hierdie metode verhoed dat die gedagtes nie op loop gaan en in vrees of denkbeeldige uitkomste verval nie, en dit help om jou weer in die realiteit te anker.
 
Dawid doen iets soortgelyks. Hy praat tot 'n hart wat afgedwaal het en hy roep dit tot rus – nie deur deur die nood te ontken nie, maar deur die waarheid op te noem. Die Here het goed gedoen aan hom. Die Here het sy lewe van die dood gered, sy oë van trane, sy voete van struikeling. Met ander woorde, God is goed. God beskerm. God is getrou. Deur hierdie waarhede te herhaal, anker Dawid sy hart in dit wat waar is – en daar vind hy rus.
 
Ons kan dit ook doen. Ons angstige harte kan weer vrede vind, nie omdat omstandighede noodwendig verander het nie, maar omdat God nooit verander nie.
 
Vrede is nie iets wat ons kan verdien nie, dit is 'n gratis geskenk van God. (Johannes 14:27) Wanneer ons ons aandag op sy goedheid vestig – verlede en hede – kom ons harte weer tot rus.
 
Hy was nog altyd goed. Hy sal altyd goed wees. Dit is waar ons harte 'n tuiste vind.
 

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u getrouheid, en dat U aan my hart 'n tuiste gee waar ek in U tot rus kan kom. Help my om altyd na daardie rus terug te keer, selfs wanneer die wêreld probeer om my daarvan te weerhou. Amen

Next article: Die hart: Hardloop na die Vader - 19 Februarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.