Tot sy eer: Ambassadeurs vir Christus - 25 Februarie 2026
Lauren Appolis
Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons 'n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! 2 Korinthiërs 5:20, 2020-vertaling
Daar is baie dinge by die skool waar ek skoolhou waarvan ek hou. Een daarvan is 'n sterk klem op dissipline. Dit laat die skool goed funksioneer en dit vorm karakters. Een van die maniere waarop hierdie dissipline uitgedruk word, is deur ons uniformbeleid.
Daar is duidelike riglyne oor hoe die uniform gedra moet word en items wat nie daarvan deel is nie, word streng verbied. Baie leerders kla dikwels hieroor. As tieners is selfuitdrukking vir hulle belangrik en hulle begryp nie altyd hoekom sekere dinge nie toegelaat word nie.
Wanneer sulke klagtes en frustrasies voorkom, probeer ek altyd verduidelik dat die uniform nie net oor netheid gaan nie. Dit identifiseer hulle. Of hulle nou by die skool is of daarbuite, wanneer hulle die uniform dra verteenwoordig hulle die skool. Hoe hulle hulle gedra, is belangrik. Hulle gedrag, woorde en houding teenoor ander, vertel 'n storie oor waar hulle hoort.
En dikwels tydens hierdie gesprekke besef ek opnuut dat hierdie les nie net vir hulle is nie.
As kinders van God beskik ons ook oor 'n identiteit wat, waar ons ookal gaan, ons Vader en sy koninkryk verteenwoordig. Ons is ambassadeurs – nie net in woord nie, maar ook deur ons dade, houding en liefde. Hoe verteenwoordig ons Hom?
Maak ons daaglikse lewe – by die werk, by die huis, in ons gesprekke – mense nuuskierig oor die God aan wie ons behoort? Of gaan ons soms onverskillig om met hierdie identiteit? Meng ons dit met 'n houding en reaksies wat nie God se hart weerspieël nie?
Die Bybel nooi ons uit om onsself te ondersoek en aandag te gee aan hoe ons leef. Dit herinner ons dat ons karakter belangriker is as uiterlike voorkoms, dat ons woorde kragtig is, en dat liefde, nederigheid en goedheid die kenmerke moet wees van hoe ons ander behandel. Ons is geroep om diegene in nood te help, om mekaar se laste te dra en om vrede na te jaag.
Ons is nie van hierdie wêreld nie – en dit was nooit die bedoeling dat ons soos die wêreld moet lyk nie. Mag ons met die hulp van God sy koninkryk goed verteenwoordig. Miskien nie volmaak nie, maar getrou.
Dit is immers 'n voorreg – die grootste eer – om draers van sy Naam te wees.
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die voorreg om aan U te behoort. Vorm my hart, my woorde en gedrag sodat ek U ten beste kan verteenwoordig. Gee dat my lewe vir ander die pad na U sal aanwys, en dat alles wat ek doen tot eer van u Naam sal wees. Amen