Die hart: Bewaak dit - 17 Februarie 2026
Lauren Appolis
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Spreuke 4:23, 1983-vertaling
Ons aksies reflekteer wat in ons harte aangaan. Daarom is dit so belangrik wat ons daar toelaat – en laat wortelskiet.
Dikwels word die inhoud van ons harte stilweg geopenbaar. Nie in groot oomblikke nie, maar deur ons reaksies, ons gewoontes, ons woorde. As ons bereid is om aandag te skenk, sal ons baie leer oor wat in ons hart omgaan.
Wat is ons eerste reaksie wanneer 'n moeilike situasie opduik? Is ons onmiddellik geïrriteerd, met 'n negatiewe houding wat in ons woorde oorspoel? "My werk is so frustrerend. Daardie mense is regtig toksies. Ek is so ongelukkig. Ek wens ek hoef nie hier te wees nie."
Liewe vriend, miskien is hierdie 'n uitnodiging om jou hart teen ondankbaarheid te bewaak, en eerder te kies om God te prys vir dit wat Hy aan jou gee.
Wanneer iemand ons seermaak of te na kom, wil ons instinktief hulle ook seermaak sodat hulle kan voel wat ons gevoel het? Is ons vinnig om 'n wrok te koester, of mense heeltemal te ignoreer? Dit mag wees dat ons nie ons harte teen onvergifnis bewaak het nie en nog nie – weer en weer – gekies het om dieselfde genade te bewys wat God so vrylik aan ons gee nie.
En wanneer ons 'n probleem wat soos 'n berg voor ons lê moet oorkom, 'n probleem met geen duidelike oplossing nie, wat kom eerste by ons op? Geloof of angs? Verklaar ons die mag van God oor die situasie, kies ons om die situasie in geloof te hanteer? Of laat ons ongeloof toe om stilweg in te trek en God tot die grootte van ons omstandighede te verklein?
Die Bybel dring by ons aan om elke gedagte gevange te neem. (2 Korintiërs 5:10) Dit sal ons dus goed doen om bestek te neem van ons onmiddellike reaksies op mense en die lewe – dit bied insig op die toestand van ons harte.
Wat ons ookal doen, mag dit 'n hart weerspieël wat versigtig teen die weë van die wêreld bewaar en doelbewus met die goedheid van God gevul word.
Gebed: Here, ek gee my hart oor aan U. Woon in my sodat alles wat ek sê sal getuig van 'n hart wat u waarheid en heerlikheid weerspieël. In Jesus se Naam, Amen.