Die hart: Moenie omkyk nie - 18 Februarie 2026
Lauren Appolis
Nadat hulle vir Lot-hulle buite die stad gebring het, sê een van die mans vir hom: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.” Genesis 19:17, 1983-vertaling
Genesis 19 vertel die verhaal van hoe God deur sy genade Lot en sy vrou uit Sodom en Gomorra bevry het – stede deurdrenk met sonde en bestem om vernietig te word. Voordat die stad sou val, is hulle beveel om te vlug, en die engel van die Here het aan hulle 'n duidelike opdrag gegee: wanneer hulle die stad verlaat, moes hulle nie omkyk nie.
"Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander." (Genesis 19:26)
God, in sy goedheid, het hulle verwyder uit 'n plek wat tot hulle ondergang sou lei. En tog, om te vertrek moes moeilik gewees het. Sodom was bekend. Dit was die lewe wat sy geken het. Miskien het sy omgekyk omdat dit wat agter gelê het veiliger gevoel het as dit wat op hulle gewag het. Miskien was dit nie soveel 'n geval van opstand as van huiwering nie – 'n verlange na dit wat was en onsekerheid oor dit wat kom.
Ek wonder hoe dikwels bevind ons ons nie in soortgelyke omstandighede nie. God, in sy genade, roep ons uit omstandighede wat nie volgens sy wil vir ons is nie – plekke waar ons nie kan floreer nie. Tog, wanneer die toekoms onduidelik is, is ons soms in die versoeking om om te kyk, aangetrek tot die bekende, selfs al weet ons dat dit nooit vir ons bedoel was nie.
Lot se vrou het nooit dit wat God vir haar voorberei het, ervaar nie. Haar verhaal laat ons besef hoe erg dit kan wees om vas te klou aan dit wat agter is, wanneer God ons vorentoe lei.
Miskien is jy ook van iets weggeroep – iets gemaklik, iets bekend – en nou voel jy onseker, blootgestel en bang. Skep moed: God roep ons nie weg van iets om ons dan gestrand te laat nie. Sy plan vir jou is goed en Hy begeer voorspoed vir jou. (Jeremia 29:11)
Mag ons leer om dit wat ons eens geken het te laat gaan, sodat ons hande vry kan wees om dit wat God ons bied, te ontvang. Hy gaan saam met ons, bestendig en getrou, en Hy beloof om ons nooit te verlaat of in die steek te laat nie. (Deuteronomium 31:6)
Sy plan is ver bo wat ons kan dink. (Efesiërs 3:20) En wanneer Hy jou vra om iets agter te laat, is dit slegs omdat Hy vorentoe iets beter vir jou bestem het.
Moenie omkyk nie. Vertou Hom. Wat Hy vir jou beplan het, is goed.
Gebed: Hemelse Vader, help my om U te vertrou wanneer U my vorentoe lei. Wanneer ek angs of onsekerheid ervaar, maak my hart stil. Skep in my 'n verlange na alles wat U vir my voorberei het – veel beter as my gehegtheid aan dit wat verby is. Amen