Die hart: Gevoel is nie altyd die waarheid nie - 16 Februarie 2026
Lauren Appolis
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Hebreërs 4:12, 1983-vertaling
Ek dink dikwels oor die verskillende tye wat ek beleef het en wens ek het toe die krag van God se Woord oor my denke, emosies en uiteindelik my hart, verstaan. Hoeveel onnodige pyn kon ek nie gespaar gebly het nie!
Ons gevoelens en emosies spruit dikwels uit ons persepsie van 'n situasie. Met die gevolg ons harte word gevul met dit wat ons glo waar is, net omdat ons so voel.
Hier is hoe die scenario dikwels ontvou: iets werk nie uit soos ons dit beplan of gehoop het dit sou nie. Ons is teleurgesteld en negatiewe gedagtes vul ons gedagtewêreld – 'n maklike vastrapplek vir die vyand. Nie lank nie, en ons is daarvan oortuig dat ons 'n mislukking is, dat niks ooit vir ons uitwerk nie, of dat dit onherstelbaar is. Uiteindelik teken hopeloosheid 'n huurkontrak en maak homself gemaklik in die diepste hoekies van ons harte.
Dank die Here vir sy Woord wat die waarheid is en vasstaan bo elke leuen wat die vyand nog ooit kon optower.
Hebreërs 4:12 leer ons dat die woord van God lewend en kragtig is, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit deurboor misleiding en ontbloot die waarheid.
Jy voel asof jy misluk het, maar die Bybel sê jy is meer as 'n oorwinnaar. (Romeine 8:37) Jy voel asof jy tekort skiet, maar God sê jy deel in die volheid van Christus. (Kolossense 2:10) Jy voel asof jy nie kan aangaan nie – tog sê sy Woord jy is deur Hom tot alles in staat. (Filippense 4:13) Jy voel verlore – tog verseker Hy jou dat Hy jou die regte pad sal laat loop, Hy bepaal jou koers. (Spreuke 3:5-6; Psalm 37:23)
In terapie word ons geleer om ons gevoelens te identifiseer. Dit help – dit maak ons bewus van en help ons om sin te maak van ons realiteit en om ons perspektief en gedrag dienooreenkomstig aan te pas. As kinders van God het ons egter 'n nog groter wapen: die Woord van God wat ons harte binnedring en elke leuen wat sy waarheid weerspreek, vernietig.
As ons nie God se Woord bestudeer, dit in ons harte bewaar en in ons mond hou nie, gaan ons sukkel om tussen waarheid en bedrog te onderskei.
Net omdat jy so voel, beteken nie iets is waar nie. Wat God daaroor sê – dit is die waarheid.
Gebed: Liewe Heer, wanneer ek oorweldig word deur negatiewe gevoelens en emosies, help my asseblief om my tot u waarheid te wend. Gee dat my lewe nooit deur my gevoelens oorheers sal word nie, maar eerder deur u Woord. Amen