Geanker in Hom: Ware liefde - 13 Februarie 2026
Lauren Appolis
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Romeine 8:38-39, NIV
Wanneer twee mense ware liefde vind en dit met mekaar deel, het dit die krag om 'n hele lewe aan te raak, 'n mens se wese te vorm, en die wêreld in te kleur met diep skakerings van onverklaarbare blydskap, met 'n sin van aan mekaar behoort en met plesier – tot 'n sekere mate 'n weerspieëling van God se liefde vir ons.
Alhoewel nog 'n entjie weg, gaan die dag aanbreek wanneer my dogter my vra of ware liefde bestaan. Ek is dankbaar dat ek met vertroue sal kan antwoord dat dit wel bestaan. Ek sal haar vertel dat liefde iets is wat vir elke rede bestaan, en tog ook vir geen rede nie. Liefde is wanneer jy na 'n ander persoon kyk, en jy sien hom of haar nie soos jy die res van die wêreld sien nie. Dit is wanneer julle oë ontmoet, maar eintlik is dit julle siele wat mekaar herken – en jy voel dit.
Dit is 'n liefde wat bly voortbestaan wanneer die lewe en al sy uitdagings alles probeer om dit te verbreek, en nie daarin kan slaag nie. Nie eers tyd – wat alles kan genees, maar ook die krag het om alles uit te wis – kan so 'n liefde verbreek nie. Dit duur voort. Ek is dankbaar dat ek haar sal kan verseker dat ware liefde 'n geskenk is, en wanneer dit gevind word, dit nie vergaan nie. Ek kan dit met vertroue sê omdat ek geseën is met so 'n liefde.
Ek sal haar ook vertel dat alhoewel so 'n liefde werd is om te besit, daar selfs iets groter is.
Terwyl dit my gebed is dat sy eendag ware liefde sal ervaar met iemand wat God vir haar uitgekies het, bid ek vurig dat sy bo alles die omvang van God se liefde vir haar sal leer ken. Ware liefde tussen mense eindig wel wanneer "die dood ons skei", maar selfs die dood kan ons nie van die liefde van God skei nie.
Geen persoon kan God se liefde vir haar ongeldig maak nie. Niks in die geestelike ryk beskik oor daardie krag nie. Daar is niks in haar verlede, hede of toekoms – niks in die hemele bo ons, of in die diepte van die see – wat daartoe kan lei dat God haar minder of meer liefhet as wat Hy reeds doen nie. Daar is niks of niemand in die skepping wat kan standhou teen die liefde wat haar Skepper vir haar het nie.
O, hoe hoop ek nie dat sy eendag ware liefde tussen twee mense met alles wat dit bied, sal ervaar nie. Maar bo alles, as my kind die kragtige, magtige, en verstommende liefde van God deur Jesus Christus leer ken, weet ek haar hart sal gevul word met alles waarvoor sy geskape is.
Mag dit waar wees vir elkeen van ons. Mag ons die magtige liefde van God ervaar totdat dit uiteindelik ons hele wese oorneem.
Sy liefde is verniet om te ontvang en te aanvaar. Liewe vriend, as jy Jesus nog nie as jou persoonlike Saligmaker ken nie, wil ek jou smeek om Hom sonder versuim as jou Verlosser aan te neem. Soos die psalmdigter in Psalm 34:9 sê: "Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!"
Gebed: Liewe Heer, dankie vir u liefde wat alles in die skepping oortref. Ek, sondige mens, aanvaar Jesus as my Here en Verlosser, ek bely my sonde en wy my lewe aan U toe. Gee dat u liefde my lewe volkome sal oorneem. Amen