Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Geanker in Hom: Hou koers - 12 Februarie 2026

Lauren Appolis
 
Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.  Filippense 3:13-14, 1983-vertaling
 
Posduiwe beskik oor 'n merkwaardige vermoë om hulle pad huis toe te vind. Selfs al word hulle ver van waar hulle hoort vrygelaat, maak hulle staat op die aarde se magnetiese velde, op die son en ander sensoriese leidrade om hulle terug te lei – amper asof hulle 'n ingeboude GPS het. Fassinerend, of hoe?
 
Tog, ten spyte van hierdie aangebore vermoë, is daar faktore wat 'n suksesvolle terugkeer kan verhoed. Kenners sê dat afstand, onervarendheid en afleidings kan veroorsaak dat die duiwe hulle pad byster raak. Hoe verder hulle vlieg hoe weerloser word hulle – hulle word moeg, roofdiere en ander struikelblokke kan hulle disoriënteer, veral as hulle nie behoorlik opgelei is nie.
 
As kinders van God moet ons onthou dat hierdie wêreld nie ons ware tuiste is nie. Ons huis is in die hemel by Christus. Terwyl ons nog hierdie aarde bewoon, moet ons egter koers hou, bedag op enigiets wat ons van ons ewige bestemming kan weerhou.
 
Die dinge van hierdie wêreld sal ons altyd onbevredig laat, want dit is nie ons huis nie.
 
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie." (Matteus 6:19) Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar – dit is waar ons huis is. Hou koers.
 
In jou strewe om êrens te behoort, moet nie aan hierdie wêreld gelyk word nie – jy is nie van hierdie wêreld nie. Jy is tot 'n hemelse doel geroep. Dit is waar jou huis is. Hou koers.
 
Moet dan nie moeg word om te doen waarvoor God jou geroep het nie. (Galasiërs 6:9) Hy wag om jou as sy goeie en getroue dienskneg te bevestig. (Matteus 25:21) Hou koers.
 
Moet nie val vir die leuens van die vyand wat soos 'n brullende leeu rondloop nie. (1 Petrus 5:8) God het reeds verklaar dat jy meer as 'n oorwinnaar is (Romeine 8:37) en Hy het beloof dat jy saam met Hom in die hemel sal wees. (Efesiërs 2:6) Hou koers.
 
Ons is deur God uitgekies om sy koninkryk op aarde te bevorder – wat 'n geweldige opdrag en eer. Maar terwyl ons hier is, moet ons nooit die prag van die hemel wat vir ons wag uit die oog verloor nie.
 
As jy my vra, kan die wêreld alles wat dit bied maar hou – niks kan met die hemel vergelyk nie. Ek sal my GPS op die uiteindelike bestemming rig en koers hou. Die hemel wag – wat 'n prys.
 
Gebed: Hemelse Vader, help my om my oë op U gerig te hou, sodat die dinge van hierdie wêreld nie my aandag sal aflei van my reis met U nie. Amen
Next article: Geanker in Hom: Liefde wat voorsien - 10 Februarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.