God se liefde: Jy is meer werd as enigiets anders - 3 Februarie 2026
Lauren Appolis
Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” Lukas 12:7, 1983-vertaling
Een van my gunsteling herinneringe aan my vroeë huwelikslewe is toe ons in ons eerste huis ingetrek het. Ons het begin met net die basiese om die plek te meubileer. Op daardie stadium het huisinhoudsversekering onnodig gelyk: die bybetaling in die geval van 'n inbraak sou heel moontlik die waarde oorskry het van alles wat ons toe besit het.
Stadig maar seker het ons duurder items vir die huis aangekoop. Skielik was dit 'n risiko om die inhoud nie te verseker nie. Die inhoud van ons huis was te waardevol om dit nie te dek nie. Toe die huis feitlik leeg was, het 'n inbraak onwaarskynlik gelyk – diewe sou hulle tyd gemors het. Soos die inhoud egter waardevoller geword het, het die kanse vir 'n inbraak ook toegeneem.
Ek kan nie help om hier 'n vergelyking met ons lewe in Christus raak te sien nie. Die Bybel is vol beskrywings van hoe God ons sien: geskep na sy beeld (Genesis 1:27), op 'n wonderbaarlike wyse geskep (Psalm 139:14) en God se uitverkorenes wat Hy baie liefhet (Kolossense 3:12). In Lukas 12:7 sê Jesus dat ons so waardevol is dat God selfs die hare op ons kop getel het.
Die waarheid is dat ons mede-erfgename met Christus is (Romeine 8:17), elkeen met 'n Godgegewe doel. God begeer om ons vir werk in sy koninkryk te gebruik. Dit maak jou uiters waardevol. Die Bybel leer ons egter dat daar 'n vyand is, 'n dief wat kom om te steel, te slag en uit te roei. (Johannes 10:10) Dit is dus geen verrassing dat die vyand dikwels probeer om deur onsekerheid, angs, vergelykings met ander en deur leuens, ons van ons identiteit te beroof nie.
Die boodskap is eenvoudig: moet nooit aan jou waarde twyfel nie. Diewe mors nie tyd met leë huise nie. Jy is so belangrik vir God dat Hy selfs die kleinste besonderhede van jou lewe ken.
Tye van teëstand bevestig dikwels die waarde wat God aan jou lewe heg. Miskien sal jy deur swaarkry sterker word. Miskien sal jou getuienis iemand anders nader aan Jesus bring. Miskien is jy die een om gedragspatrone van generasies te verbreek.
Wat ookal God aan jou toevertrou het, hou moed: Jy is "meer werd as baie mossies." En as God die voëls van die hemel so getrou versorg, hoeveel te meer sorg Hy nie vir jou nie – sy meesterstuk?
Jy is van onskatbare waarde en jy word deur die Allerhoogste God beskerm.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek so baie vir U werd is. Help my om elke leuen te ignoreer wat probeer om my te laat vergeet wie ek in Christus is. Gee aan my krag om met vrymoedigheid my roeping uit te leef, vol vertroue in u liefde en beskerming. Amen