God se liefde: Op jou naam geroep, jy is Syne - 4 Februarie 2026
Lauren Appolis
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. Jesaja 43:1, 1983-vertaling
Ek hou baie daarvan om Engels te gee want taal laat ons toe om die betekenis van 'n skrywer se woordkeuse te verken, en daar is dikwels so baie om te ontdek. Een van die lesse fokus op persoonlike voornaamwoorde, soos byvoorbeeld jy. In Engels, (ook in Afrikaans), gebruik skrywers dikwels hierdie voornaamwoord om 'n gedeelte persoonlik te maak, om 'n leser se aandag te trek en om hulle te betrek.
In vandag se teksgedeelte maak God sy gevoelens teenoor ons baie duidelik. Hy stel dit op 'n baie persoonlike manier.
In 'n wêreld van meer as agt miljard mense, is dit maklik om verlore te voel, onsigbaar en onbeduidend – veral wanneer vergelykings, verwerpings of leuens wat die vyand versprei ons gedagtes vertroebel. God het egter baie te sê oor sy kinders – oor jou en my.
In Jesaja 43:1 herinner die Here Israel aan wie hulle behoort, en bied aan hulle troos in hulle ballingskap omdat hulle identiteit in Hom gevestig is. Hoe dikwels voel ons nie "in ballingskap" in ons eie lewens nie? Uitgesluit, ongekwalifiseerd en, in vergelyking met ander, onwaardig.
Let op hoeveel keer God die persoonlike voornaamwoord jou en jy in vandag se teks gebruik. Jy word verlos, terwyl die wêreld jou veroordeel het. Jy word geroep, op jou naam, terwyl dit maklik is om te voel jy is maar net nog een in 'n see van gesigte. Jy behoort aan die Here, alhoewel jy miskien nie voel dat jy uitgekies is nie.
Liewe vriend, God is persoonlik wat jou betref. Jou identiteit is nie in hierdie wêreld geanker nie – dit is in die Een wat jou geskep het, die Een wat jou oneindig liefhet, presies soos jy is.
Wanneer ons besef dat ons hemelse Vader persoonlik aanspraak maak op ons, kan niks wat die wêreld sê ons onbeduidend laat voel nie. Ons behoort reeds aan Hom, word reeds deur Hom geken en liefgehê.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U aan my 'n identiteit in U gegee het. Help my om getrou te bly aan wie ek in U is, veral wanneer ek verlore en onwaardig voel, asof niemand my raaksien nie. Amen