God se liefde: Groter as ons begrip - 2 Februarie 2026
Lauren Appolis
... dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Efesiërs 3:17-19, 1983-vertaling
Daar is inderdaad rede om vandeesmaand die liefde te vier – maar prys die Here nie die vlietende, voorwaardelike soort liefde soos deur die wêreld gedefinieer nie. As kinders van die Allerhoogste, het ons toegang tot die onverdiende, onfeilbare, verreikende, nimmereindigende liefde van God.
Die feit van die saak is egter dat ons die volheid van liefde en die veranderlike krag daarvan, sal mis as ons probeer om dit sonder God te ervaar. Die wêreld se siening van liefde is gewortel in voorwaardes en selfbelang: Ek het jou lief omdat jy my liefhet. Ek het jou lief omdat jy vir my goed is. Alhoewel hierdie lieflike woorde is om te hoor, is menslike liefde, as 'n mens daaroor nadink, dikwels iets wat jy moet verdien.
Maar wat gebeur wanneer iemand jou teleurstel, aanstoot gee of misluk? Is hulle steeds jou liefde werd? Die menslike aard vind dit moeilik: 'n wrok word gekoester na 'n oortreding of daar is verwerping na mislukking. Gemeet aan wêreldse standaarde, is liefde voorwaardelik.
Prys die Here vir die vrymakende krag van die liefde van 'n Verlosser!
As ons probeer om dit op die wêreldse manier te doen, sal ons nooit daarin slaag om ander lief te hê soos God wil hê ons moet nie. Boonop sal ons tekortskiet om ander waarlik lief te hê as ons nie God se persoonlike liefde vir ons begryp nie.
Ironies, om Christus se liefde enigsins te begryp, moet ons verstaan dat dit so "wyd en ver en hoog en diep" is dat dit "ons verstand te bowe gaan". (Efesiërs 3:18-19) Dit maak nie sin nie, en tog is dit waar. Ons is in sonde gebore, tog het "Christus vir ons gesterf ... toe ons nog sondaars was." (Romeine 5:8) Hy ken ons met al ons foute en tog ontferm Hy Hom oor ons. (Psalm 103:13-14) Selfs as ons ver van Hom af dwaal, sal sy liefde ons volg; Hy laat die nege en negentig skape staan om die verlore een te soek. (Lukas 15:4-7)
Daar is absoluut niks wat ons kan doen – of nie doen nie – wat ons van die liefde van God kan skei nie. (Romeine 8:38-39)
Dit is eenvoudig, liewe vriend, God se liefde hang nie af van wat jy doen of dink jy behoort te doen nie. God het jou reeds lief – meer as wat die menslike verstand kan begryp.
Kom ons gebruik hierdie maand om oor die oorweldigende liefde van God na te dink. En soos ons "vervul word met die volheid van God", mag ons oorloop met liefde vir ander.
Gebed: Dankie Vader, vir u onfeilbare liefde. Help my om die volheid daarvan te begryp en om ander mense lief te hê soos U my liefhet. Amen