Vertroue: God kan ongelooflike dinge doen - 28 Januarie 2026
Andrea Sieberhagen
Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur 'n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe." Lukas 5:19-20, 1983-vertaling
Nog 'n verhaal van volkome vertroue. Vertroue wat so groot is dat geen moeite te veel is om by Jesus uit te kom nie.
Vriende van 'n verlamde man wil hom na Jesus bring, maar daar is net te veel mense om hom na binne te bring. Hulle gee egter nie op nie. Hulle maak 'n plan. Hulle doen die moeite om op die dak te klim en laat sak hom deur 'n opening in die dakteëls tot voor Jesus.
Die resultaat? In Lukas5:24b sê Jesus vir die verlamde man, “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” En dis presies wat die man doen, terwyl hy God prys.
Ons hoef nie op dakke te klim om by Jesus uit te kom nie. Ons kan maar net stil word. Ons kan maar net vir 'n oomblik ons oë sluit in gebed en ons is by Hom. Ons kan maar net by 'n kerk se deur inloop om saam met ander gelowiges die teenwoordigheid van ons Vader te beleef. Moeiteloos.
“Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: 'Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.'” (Lukas 5:26)
God kan ongelooflike dinge doen. Hoeveel moeite is ons bereid om te doen om in staat te wees om iets van hierdie ongelooflike dinge te ervaar? Besef ons dat dit moeiteloos kan wees? Besef ons dat die beloning altyd groot is?
Gebed: Hemelse Vader, help ons om in volkome vertroue u teenwoordigheid op te soek. Amen