Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vertroue: Volkome vertroue - 27 Januarie 2026

Andrea Sieberhagen 

Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere raak, sal ek gesond word. Markus 5:27-28, 1983-vertaling
 
Hier lees ons die verhaal van die vrou wat vir twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Hoewel sy reeds baie dokters geraadpleeg het en baie geld spandeer het, het haar toestand nie verbeter nie. Hierdie vrou was dus desperaat.
 
In hierdie verhaal vind ons 'n besondere voorbeeld van vertroue. Hierdie vrou het van Jesus gehoor. Sy ken Hom nie. Sy is nie in 'n persoonlike verhouding met Hom nie. Gesien in die lig hiervan, kan ons dit blindelingse vertroue noem. Sy het nood en sy vertrou dat hierdie man haar kan gesond maak.
 
Haar vertroue strek so ver dat sy glo dat slegs 'n aanraking aan sy klere haar gesond sal maak. Sy praat nie 'n woord nie. Net die aanraking.
 
“En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was.” (Markus 5:29).
 
Onmiddellike resultate!
 
Voel ons nie ook soms so desperaat soos hierdie vrou nie? Beleef ons nie ook dikwels omstandighede waar ons voel dat ons alreeds alle opsies probeer het en geen positiewe uitkoms kan vind nie?
 
As ons 'n oomblik hieroor nadink, sal ons besef dat ons eie posisie in meer as een opsig gunstiger is as haar situasie. Ons kan in 'n persoonlike verhouding met Jesus wees. Ons het nie net van Hom gehoor nie. Deur sy Woord kén ons Hom.
 
Ons kan deur gebed in 'n direkte gesprek met Hom tree en al ons begeertes en behoeftes aan Hom bekend maak.
 
In Markus 5:34 sê Jesus, “Dogter, jou geloof het jou gered.”
 
Hierdie woorde moet vir ons 'n aansporing wees om sterk te bly in die geloof en om nooit ons vertroue in Jesus te verloor nie.
 
Gebed: Hemelse Vader, help ons om in ons persoonlike verhouding met U, ons toegang tot U te gebruik en ons versugtinge in vertroue met U te deel en dan te bly glo! Amen
Previous article: Vertroue: God kan ongelooflike dinge doen - 28 Januarie 2026 Prev Next article: Vertroue: Volkome afhanklikheid - 26 Januarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.