Vertroue: Volkome afhanklikheid - 26 Januarie 2026
Andrea Sieberhagen
Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep, “Here, red my!” Matteus 14:29b-30, 1983-vertaling
Hierdie bekende verhaal waar Jesus na die dissipels in die visserskuit op die water loop is 'n illustrasie van entoesiastiese vertroue wat vinnig kwyn wanneer omstandighede moeilik lyk.
Is dit nie wat dikwels met ons ook gebeur nie?
Petrus sê in Matteus 14:28, “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U te kom.” Wanneer Jesus sê, “Kom!” klim Petrus sonder om te huiwer uit die skuit en begin wel met selfvertroue op die water loop. Dikwels is dit ook ons voorneme om ons hemelse Vader ten volle te vertrou met ons lewens en omstandighede en ons spring baie goed weg met ons oë gerig op Hom. En dan kry ons dit vir 'n oomblik baie goed reg.
Die moeilikheid kom, wanneer Petrus sy oë van Jesus afhaal en na die wind kyk. Dit is dan wat sy geloof hom in die steek laat. Hy word bang en begin sink.
Ons is niks anders as Petrus nie. Ons word groot met die gedagte dat ons God met alles in ons lewens moet vertrou en heel dikwels kry ons dit reg. Veral wanneer ons omstandighede gunstig is. Dit raak egter moeiliker wanneer die lewenswinde om ons begin waai. Wanneer ons sien hoe sterk die wind is, begin ons ook sink. Ons omstandighede voel oorweldigend en weg is die vertroue!
Gelukkig besef Petrus sy afhanklikheid van God en hy roep uit, “Here, red my!” in Matteus 14:30 en Jesus steek onmiddellik sy hand uit en gryp hom. Ten spyte van die feit dat ons vertroue in ons Vader so feilbaar is, is sy getrouheid onfeilbaar. Dit is óns redding!
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ons altyd op U kan vertrou, dankie dat U getrou bly, selfs wanneer ons vertroue faal. Amen