Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wees anders: Doen wat reg is - 23 Januarie 2026

Andrea Sieberhagen
 
Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Matteus 5:10, 1983-vertaling
 
Ons leef in 'n wêreld waar die lyne tussen reg en verkeerd baie vaag geword het. Die tydsgees is dikwels “anything goes”.
 
Tieners word veral daarmee gekonfronteer wanneer hulle te doen kry met groepsdruk. Wanneer hulle buite die veilige omgewing van hulle huise beweeg, raak die waardes wat hulle binne hulle ouerhuise geleer is dikwels uitgedaag. Vir 'n jong volwassene kan hierdie 'n lewenskrisis raak omdat die vrees om uitgestoot en dus eensaam te raak 'n realiteit is. Hulle vrees om as “anders” gebrandmerk te word, dikteer dan hulle optrede wanneer daar van hulle verwag word om keuses uit te oefen.
 
Ouers en onderwysers speel 'n belangrike rol om tieners van kleins af voor te berei om hierdie keuses met selfvertroue te hanteer. As hulle vooraf weet wat oor hulle pad gaan kom, is dit net soveel makliker om “nee” te sê wanneer dit nodig raak.
 
Die behoefte aan aanvaarding en die behoefte om in te pas binne 'n sosiale kring kan egter selfs verby die tienerjare strek. Volwassenes het ook maar die behoefte om iewers in te pas al sal hulle dit nie altyd erken nie. Party volwassenes wat nooit in hulle tienerjare aanvaarding binne 'n groep ervaar het nie, sien dikwels in hulle latere jare die geleentheid binne 'n werkskring of vriendekring om “cool” te wees op 'n hoër ouderdom. As dit gebeur is dit moeilik om die laaste kans van vergete jeug te laat verbygaan en skielik is dit vir hulle makliker om waardes waaraan hulle al vir jare vasgehou het effens te “buig”.
 
Die woord van God vra van ons om te doen wat reg is. Dit beteken egter nie dat ons permanent vingerwysend na die wêreld kyk om uit te wys wat alles verkeerd is nie.
 
Ons het wel 'n verantwoordelikheid om op te staan vir wat reg is. Ons mag nie stilbly wanneer ons onreg sien nie, maar soms is dit gewoon genoeg om 'n voorbeeld te leef van wat reg is.
 
Gebed: Hemelse Vader, help my vandag om duidelik te onderskei wat reg en wat verkeerd is. Wees by my wanneer ek keuses uitoefen en besluite neem. Maak van my 'n waardige voorbeeld om na te volg. Amen
Next article: Wees anders: Vredemakers - 22 Januarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.