Wees anders: Vredemakers - 22 Januarie 2026
Andrrea Sieberhagen
Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Matteus 5:9, 1983-vertaling
Ons lewe in 'n wêreld waar konflik deel is van ons daaglikse bestaan. Ons ervaar dit binne families, vriendekringe en in ons werksomgewing. Mense het verskillende opinies oor verskillende sake en in dit is die menslike natuur om te glo dat jý reg is en die ander persoon heeltemal verkeerd. Daar is net geen ruimte vir verskille of kompromieë nie. Dis nie rond nie, maar ovaal. Die deur is nie blou nie maar 'n buitengewone skakering van ligblou!
Ons sien dit ook daagliks in die media. Politici wat mekaar beswadder, huishoudelike konflik wat lei tot geweld, saketransaksies wat as gevolg van konflik skipbreuk ly.
Die groot vraag is hoe reageer ons wanneer konflik oor ons pad kom. Is jy die inisieerder daarvan? Vind jy áltyd 'n rede om te verskil, selfs oor die kleinste onbenulligheid? Of is jy daardie persoon wat van buite die kryt die geveg aanmoedig en die spreekwoordelike olie op die vuur gooi. Staan jy dan terug om te aanskou hoe hoog die vure brand?
Die belangrike vraag is egter wat word van ons, kinders van ons hemelse Vader verwag? Matteus 5:9 laat geen twyfel nie. “Geseënd is die vredemakers ...”
Hoe is ons veronderstel om dit te doen? Is die antwoord om toe te tree tot die geveg en uit te wys presies wie is reg en wie is verkeerd? Is ons veronderstel om as skeidsregters op te tree?
Miskien nie. Miskien word daar juis van ons verwag om onpartydig, net kalmte en redelikheid in 'n konfliksituasie in te dra. Miskien met die gee van 'n nuwe perspektief. Miskien met kalmering van gemoedere. Miskien kan humor 'n situasie ontlont. Of 'n koppie tee.
Watter strategie jy ook al kies, kies om 'n vredemaker te wees!
Gebed: Hemelse Vader, help my deur u Gees om 'n vredemaker te wees. Lei my om 'n instrument in u hand te wees wat kalmte en rustigheid bring waar ek ook al in hierdie onvolmaakte wêreld beweeg. Amen