Verbonde: Behou kontak - 13 November 2025
Louise Gevers
“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word ... Matteus 6:9, 1983-vertaling
Baie jare gelede het ek as 'n jong vrou tydens 'n oorsese toer myself in 'n skare in Innsbruck bevind wat almal in verwondering gestaar het na die Goue Dak (Goldenes Dachl) wat Maximiliaan gebou het om sy keiserlike status en rykdom te vertoon. Vir die eerste keer weg van die huis, en oorweldig deur dit wat ek gesien het, kon ek nie gou genoeg by die plaaslike poskantoor uitkom om 'n hooflynoproep (onthou julle dit nog?) te maak om alles met my ma te deel nie. Dit was geensins 'n perfekte kommunikasievorm nie, maar ons is gekonnekteer en ek kon vir 'n paar minute met haar gesels. Was dit vandag, sou ek onmiddellik via my selfoon 'n foto met 'n kort beskrywing gestuur het.
Die band met die mense vir wie ons omgee verdwyn nie wanneer ons ver weg is nie, inteendeel, om kontak te behou is selfs meer belangrik om ons te help om aan mekaar verbind te bly.
Vandag is daar in 'n wêreld waar daar 'n menigte toestelle is baie maniere om te kommunikeer en om mense met feitlik alles in die lewe te verbind, eredienste ingesluit. Interessant genoeg, kan hulle, alhoewel beskikbaar, nie noodwendig die verlangde sukses waarborg nie – soms reageer mense nie of soms is die verbinding swak.
Ons het al almal die angs beleef wanneer ons 'n boodskap stuur of iemand skakel en nie reaksie kry nie, net om later – ek is self skuldig – uit frustrasie omdat ons boodskap nie gelees of reg verstaan word nie, die verbinding te verbreek. Dit verbreek die kern van kommunikasie.
'n Ware verbintenis is 'n diep, betroubare band wat op wedersydse begrip, respek en reaksie berus, wat kwesbaarheid en gedeelde ondervindings moontlik maak, en wat elke persoon toelaat om te weet dat hulle saak maak.
Die belangrikste verbintenis wat ons elke dag kan ervaar, is om met God te kommunikeer, en ons benodig geen toestel daarvoor nie. 'n Gelowige hart wat nederig en opreg na Hom uitreik, is al wat ons benodig. Jesus leer dat "die Vader self het [ons] lief" (Johannes 16:27) en Hy hoor ons want Hy gee aan ons die riglyne hoe om tot Hom te bid, tesame met insigte oor wat God die meeste na waarde skat wanneer ons tot Hom bid: “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. ... gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. ... “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik ... julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra." (Matteus 6:5-8)
Jesus gee aan ons 'n eenvoudige gebed om na "Ons Vader wat in die hemel is" uit te reik en waardeur ons so maklik met Hom kan praat as met ons aardse vader, met die wete dat Hy vir ons omgee. Ons kan ons behoeftes aan Hom bekend maak en die wete dat slegs Hy ons sonde kan vergewe, gee aan ons krag teen versoeking en "verlos ons van die Bose." (Matteus 6:13)
Om verbonde te wees aan God is lewensveranderend. Het jy al hierdie noodsaaklike verbintenis ervaar?
Gebed: "Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien." (Psalm 86:11) "Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig." (Psalm 51:12) Amen