Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Geloof + liefde = oorwinning - 12 November 2025

Louise Gevers
 
... want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 1 Johannes 5:4, 1983-vertaling
 
Billy Graham het op 'n keer gesê: "Die Bybel leer ons dat geloof die enigste pad is wat ons na God toe lei. Geen mens se sonde word vergewe ... gaan hemel toe ... het ware vrede en geluk, voordat hy geloof in Jesus Christus het nie." (vrye vertaling) Hy het ongetwyfeld baie meer gesê, maar hierdie aanhaling omvat die gees van die Christelike lewe. Om met geloof in hierdie wêreld te leef, beteken om verbonde te wees aan die enigste Een wat vir ons sin van alles kan maak, want langs die prag van die skepping en die vreugde wat dit bring, is daar die gees van die wêreld met al sy uitdagings, vrees, angs, versoekings en beproewings – alles as gevolg van sonde.
 
Hoe dankbaar is ek nie dat Jesus ons lewe verstaan en ons inspireer om uitdagings te aanvaar wat ons verby onsself en ons tekortkominge laat kyk, om op Hom te steun en altyd te oorwin. As Christene is ons deel van God se familie en nooit alleen nie. Ons weet dat niemand die realiteit van die lewe ontkom nie, maar hoe moeilik dit ook al mag wees, kan ons "al [ons] bekommernisse op Hom [werp], want Hy sorg vir [ons]" (1 Petrus 5:7) en dankbaar wees vir sy getrouheid.
 
Wanneer ek deur sosiale media blaai, vind ek dikwels stories wat my hart warm maak, my inspireer en bemoedig, maar ek sien ook ander stories wat op die negatiewe in die lewe fokus, vol woorde wat mense seermaak. Hierdie persepsies openbaar 'n leemte wat deur geloof gevul kan word, en met niks daarbuite om in te glo nie bied hulle ook geen vooruitsig op iets beters nie.
 
Slegs deur Jesus – deur sy krag kan ons die misleidings en versoekings weerstaan van die duiwel wat "[rondloop] soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind" (1 Petrus 5:8) en mense van God af weglok.
 
As 'n kind van God, deur geloof in Jesus Christus, is ek "tot alles in staat deur Hom wat my krag gee." (Filippense 4:13) Ek kan my probleme oorkom, ek hoef nie in die wêreld, of, ondanks al my kwalifikasies, in myself vir antwoorde te soek nie. Paulus sê: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie." (Romeine 10:11). Hoekom sal ek my dan nie na Hom, ons hoop in lewe en dood, wend nie?
 
Om Jesus lief te hê, beteken ons gehoorsaam sy opdragte wat ons aan dit wat mooi en goed is in die wêreld verbind. Ons leef om God en ons naaste te eer en lief te hê, die waarheid te handhaaf, te glo dat God ons deur elke storm sal dra – met letsels en seëninge – en met die wete dat, ondanks hoe ons voel, Hy altyd by ons is. Ondervinding leer ons dat Hy ons liefhet soos ons is, ons sien waar ons is en, as ons Hom aanroep, Hy getrou is om ons in alle omstandighede te help.
 
"Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?" (1 Johannes 5:5)
 
Jesus sê: "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee." (Matteus 11:28)
 
Gebed: Here Jesus, dankie vir die oorwinning wat ek deur U behaal het. Vestig my in u liefde en gee dat my geloof sal groei. Ek bid dit in u Naam. Amen
 
Next article: Verbonde: Prioriteite – hemel voor mag - 11 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.