Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Verbind tot geluk - 14 November 2025

Louise Gevers
 
U bied vir my beskutting; U vrywaar my van nood; met jubelkrete van bevryding omring U my. Psalm 32:7, 2020-vertaling
 
In die Ou Testament is daar baie psalms wat vertroos en bemoedig en waarna ons ons in moeilike tye wend, hulle in stilte lees en dan die Heilige Gees vra om ons te lei oor hoe om ons uitdagings te hanteer en ons vir die pad vorentoe te inspireer. Sommige psalms het direk op ons situasie betrekking, terwyl daar ander is waarop 'n mens afkom en dan besef dit weerspieël 'n presiese ondervinding wat jy gehad het.
 
Onlangs het dit my getref hoe 'n psalm wat ek reeds vir baie jare goed ken, 'n direkte betrekking gehad het op 'n ervaring wat ek beleef het, en dit is waar ons teksvers vir vandag vandaan kom. Ek was in 'n motorongeluk waar my karretjie verskeie kere in die rondte getol en toe op sy sy geval het, met my steeds binne-in vasgegordel. Toe ek uiteindelik ongedeerd uitklim en begin loop, was ek omring met "jubelkrete" en ek het geweet dat die Here inderdaad my "beskutting" is en dat Hy my "vrywaar van nood".
 
Ek glo dat die jubelkrete van die mense op die toneel uit blydskap was omdat die Here deur sy mag iemand gered het uit die verskriklike toneel wat voor hulle afgespeel het. Mense, wat op pad werk toe, iets van hierdie psalm kon beleef en met dankbare harte kon wegstap omdat hulle God se verlossing in aksie aanskou het.
 
Lees ons Psalm 32 in gebed en met ontvanklike harte, is dit moontlik om te ontdek dat dit eintlik 'n insiggewende resep vir geluk bevat: "Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Gelukkig is die mens vir wie die Here sondeskuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie." (Psalm 32:1-2)
 
Geluk is nie iets waarmee ons gebore word nie, dit is iets wat ons deur ons reaksie op die lewe en persoonlike ervarings kweek. Dit is dikwels die gevolg van die regte keuses wat ons, ondanks omstandighede, maak.
 
Die psalmis beskryf 'n tyd wat hy "die hele dag gekla en gesug het" en hy "maer" geword het want hy het gevoel dat die Here hom "elke dag en nag" straf. (Psalm 32:3-4, Bybel vir almal) Ondanks van wat ons glo, oortredings kan ons nooit gelukkig maak nie, of dit nou ons eie sonde of die van ander is. Hoe laat die daaglikse nuus jou voel? Of dit nou min of baie is, sonde affekteer ons, dit steel ons geluk – en die van ander – en kan ons lewe vernietig as dit onverpoosd voortgaan.
 
Die psalmis gee die oplossing: My sonde het ek teenoor U erken; my sondeskuld het ek nie bedek nie ... en U het my sondeskuld vergewe. (Psalm 32:5)
 
Deur sonde te erken en te bely maak ons gees vry, nie net die van die psalmis nie, en wat ook al die omstandighede, om vergifnis te ervaar en te aanvaar laat die wêreld vars en nuut voel.
 
In sy "nuwe gemoedstoestand" besef die psalmis dat God se getroue volgelinge "tot [Hom] moet bid terwyl die geleentheid daar is" (Psalm 32:6), na sy insigte moet luister en hulle nie "soos 'n perd, soos 'n muil sonder verstand, gedra nie" en "op die Here [moet] vertrou –troue liefde omring [hulle]" en hulle moet hulle "in die Here verbly".(Psalm 32:9-11)
 
Gebed: Hemelse Vader, ware geluk is net in U. Dankie dat u vergifnis my vrymaak en my alle rede gee om gelukkig te wees. Amen
Next article: Verbonde: Behou kontak - 13 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.