Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: God en die hartsverbinding - 6 November 2025

Louise Gevers
 
Wees dan geduldig, staal julle harte ... Jakobus 5:8a, 2020-vertaling
 
Terwyl ek onlangs in die noodafdeling van 'n hospitaal gelê het sonder om te weet wat die oorsaak was van die insident wat ek ervaar het, was ek kalm ten spyte van die hoë bloeddruklesing wat die suster aan diens geneem het. Terwyl ek die bekende woorde van Psalm 23 saggies herhaal, het ek 'n gevoel van verwondering en vreugde ervaar toe die bekende woorde op 'n nuwe manier "lewendig" geword het en ek my kon verheug in die stille teenwoordigheid van die Herder van die psalm. Dié skaap was tevrede en my hart dankbaar.
 
Psalm 23 het al die moontlike scenario's en gebeure gedek, met dieselfde resultaat tot gevolg – vrede, vertroue, oorgawe – en kyk ek nou terug, besef ek dat dit ons hartsverbinding met God is wat regtig saak maak, nie net in 'n hospitaalomgewing nie, maar waar ons ons ook al mag bevind.
 
'n Hart wat God ken en aan Hom verbind is, roep Hom aan in elke situasie en vra vir krag, om onsself aan sy beloftes en teenwoordigheid te herinner en om opnuut te weet dat: "My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd." (Psalm 73:26) Om vrede te ervaar omdat God by my is, stel my in staat om sterk en hoopvol te wees en om vas te staan; om 'n hart wat God ken te hê, moet ons tyd in sy teenwoordigheid en met sy woord deurbring.
 
Dit is hoekom, in ons teksvers vir vandag, Jakobus aan die vroeë Christene wat oral buite Jerusalem versprei was, sê: "staal julle harte" sodat hulle al die groot beproewings met geduld en hoop kon verduur en te midde van vervolging vas kon staan, diep geanker in God met hulle oë gerig op Hom. Hy gebruik die beeld van 'n landbouer wat met geduld wag "op die waardevolle opbrengs van die aarde, tot die vroeë en laatreëns geval het" (Jakobus 5:7). Jakobus moedig die Christene aan om vas te staan en dieselfde te doen.
 
Wat ook al waardevol is, is werd om voor te wag en om deeglik voorbereid te wees is, soos alle swanger vroue weet, noodsaaklik. Dit is nie omdat ons dink die woorde van ons gebede is so waardevol dat ons op ons knieë bly totdat God geantwoord het nie, maar dit is omdat ons in ons harte God vertrou en omdat ons weet wanneer Jesus weer kom, ons gereed sal wees om Hom te ontmoet.
 
Is ons harte gestaal, geduldig en standvastig, vertrou ons God vir groei in ons lewe ondanks hoe goed of sleg dit mag gaan?
 
Hoe sal jy Jakobus antwoord?
 
Gebed: Hemelse Vader, gee aan my 'n hart wat U ken en help my om deur gebed te groei in Jesus Christus, die lewende Woord, en deur die krag van die Heilige Gees. Amen
 
Next article: Verbonde: 'n Goddelike ontmoeting - 5 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.