Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: 'n Goddelike ontmoeting - 5 November 2025

Louise Gevers
 
Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.” Lukas 5:8, 1983-vertaling
 
Het jy al ooit 'n wonderbaarlike gebeurtenis in jou lewe beleef? Ek is seker baie van julle het. Julle het miskien ook geleer dat die grootste wonderwerk nie noodwendig is om die skouspelagtige gebeurtenis te ervaar nie, maar wel die impak wat dit op jou lewe het. Simon Petrus het so 'n wonderwerk beleef en ontdek dat 'n Goddelike ontmoeting met Jesus sy lewe vir altyd sou verander, want hy het Jesus se krag in sy lewe ervaar.
 
Simon en sy span ervare vissers was die hele nag uit op die See van Galilea om vis te vang, maar hulle het niks gevang nie. Hulle was ongetwyfeld moeg en moedeloos. Terwyl hulle besig was om hulle nette te was, is Jesus, wat daar naby besig was om mense die woord van God te leer, deur die skare verdring. Hy het in Simon se skuit geklim en hom gevra om 'n entjie van die kant af te vaar sodat Hy vandaar met die mense kon praat.
 
Ek sou graag wou weet wat presies het Jesus die mense daardie dag vanuit Simon Petrus se boot geleer, want wat Hy gesê het, het Simon baie diep geraak en het die grondslag gelê vir die geestelike verandering wat sou plaasvind. Wanneer ons die gebeure van daardie dag van nader beskou, sien ons dat wat as 'n gewone dag begin het twee wonderwerke tot gevolg gehad het!
 
Toe Jesus klaar gepraat het sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” (Lukas 5:4) Wanneer 'n mens die hele nag met geen sukses gewerk het nie, is dit nie maklik om weer te probeer nie, maar ten spyte van sy moegheid, bewys Petrus se antwoord sy onwilligheid om Jesus se versoek te weier: “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” (Lukas 5:5)
 
Nooit van te vore het sy gehoorsaamheid so 'n beloning tot gevolg gehad nie. Die vangs was so groot dat hulle nette wou skeur en hulle moes vissers in 'n ander boot vra om te kom help. Selfs toe, het beide bote begin sink! Dit was alles te veel vir Petrus om in te neem.
 
Die grootsheid van die situasie het hom oorweldig. Simon Petrus het besef dat Jesus, aan wie hy en die skare hulle daardie oggend verluister het toe Hy oor die koninkryk van God gepraat het, ook beheer oor die skepping het en dat Hy hierdie groot wonderwerk gedoen het wat hy nie verdien het nie. En soos Jesaja voor hom, het Petrus, toe hy met God se heiligheid gekonfronteer word en besef het net hoe onwaardig hy is, in aanbidding en oorgawe voor Jesus se knieë neergeval en gesê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.” (Lukas 5:8)
 
En daardie nederige belydenis in die teenwoordigheid van God het Simon Petrus verander. Jesus het gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (Lukas 5:10) Om Jesus te volg het Simon se nuwe lewe geword; hy het alles agtergelaat.
 
En sy vriende het dit ook gedoen.
 
Gebed: Here Jesus, open my oë vir die wonderwerke in my lewe. Gee dat hulle impak op my sal help dat ek altyd nederig en toegewyd aan U sal bly. Amen
Next article: Verbonde: Hoekom Jesus? - 4 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.