Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde aan Jesus: Waarheid en vryheid - 7 November 2025

Louise Gevers
 
Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”  Johannes 8:31-32, 1983-vertaling
 
"Om vry te wees" klink eenvoudig en uiters wenslik, veral as 'n mens dit vergelyk met wat dit beteken om vasgevang of in gevangeskap te wees. Tog is dit 'n komplekse konsep omdat ons as mense so ingewikkeld is – ons kan dikwels vasgevang wees sonder om dit eers te besef. Ons is gemaak na God se beeld en ons beskik oor verskillende dele. Behalwe die sigbare liggaam, het ons ook 'n hart, verstand en gees, alles dele wat vasgevang of verslaaf kan wees.
 
Ironies kan ons fisies vry en tog nog "in kettings" wees, of opgesluit, maar vry in gees. Wat ons huidige toestand is, is miskien moeilik om te bepaal, tog is die belangrikste vraag altyd: is ons vry of vasgevang?
 
In ons teksvers vir vandag was dit die vraag wat geopper is aan die mense met wie Jesus gepraat het. Johannes skryf dat "die hele volk" (Johannes 8:2) na Hom toe gekom het in die tempel waar Hy besig was om die mense te leer, toe die Fariseërs 'n vrou wat owerspel gepleeg het na Hom toe bring om Hom uit te lok. Stem Jesus saam met die straf wat Moses in die Ou Testament neergelê het?
 
Jesus se wysheid blyk duidelik in die manier hoe Hy die situasie hanteer. Op die ou einde moes die Fariseërs erken, terwyl hulle een vir een wegloop, dat hulle ook sondaars is wat nie die reg het "om eerste 'n klip op haar [te] gooi" nie. (Johannes 8:7) Die vrou het vry weggeloop sonder dat Jesus haar veroordeel het, maar met 'n opdrag: "... moet van nou af nie meer sonde doen nie". (Johannes 8:11) Jesus se interpretasie van die Wet het die mense verder geïntresseer, en hulle wou, terwyl hulle na Hom luister, beter verstaan.
 
Jesus het vir hulle sy begrip van 'n ware dissipel gedefinieer as iemand wat vashou aan sy [Jesus] leringe en die waarheid wat dit bring. Die mooi woorde, "As julle aan my woorde getrou bly ... sal [julle] die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak", nooi hulle uit om in Jesus te bly, wat hulle verbind met die Een wat die waarheid is, en die gesag het om hulle te bevry van die krag van sonde en dood; skuld en skaamte; angs en veroordeling, en hulle kan genees om oor te begin met 'n nuwe identiteit, vry om 'n persoonlike verhouding met God te geniet.
 
Weer eens ervaar Jesus egter hulle vooroordeel en trots aangesien hulle weier om Hom te glo dat die kinders van Abraham vasgevang kon wees en bevry moes word; 'n herhaling van hulle onvermoë om hulle onregverdige behandeling van die owerspelige vrou raak te sien.
 
En ons? Hou ons ook vas aan ons eie trots en vooroordeel?
 
Jesus nooi ons ook uit om sy dissipels te word. Is ons gehoorsaam aan Jesus se leringe en geanker in die waarheid wat ons vrymaak?
 
Sal ons in Hom bly?
 

Gebed: Here Jesus, dankie dat U die waarheid is en my vrygemaak het! Amen

Next article: Verbonde: God en die hartsverbinding - 6 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.