Dis nooit te laat nie: Om vir hulp te vra - 29 Oktober 2025
Charlea Grey
Ek kyk op na die berge en ek vra: “Van waar sal iemand kom om my te help?” Dit is die Hére wat my sal help, die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Psalm 121:1-2, Bybel vir almal
Is jy te trots? Te skaam? Te bang? Voel jy jy moet alles self doen en dat jy net op jouself kan staatmaak?
Vra jy vir hulp wanneer jy dit nodig het? Ek praat nie nou van 'n gunsie hier en daar nie. Ek praat van ware hulp wanneer jy dit regtig nodig het.
Ek het al voorheen erken, ek is eintlik maar 'n beheervraat. Dit is dus nie vir my maklik om vir hulp te vra nie. Maak nie saak wat dit is nie. Ek karring liewer self voort, laai meer hooi op my vurk en doen alles self.
Ek weet ook ek is beslis nie die enigste een wat so lewe nie. Maar dit is helaas nie regtig iets om op trots te wees nie. Die realiteit is dat geen mens alles self kan doen nie. Iewers gaan die pap op die grond val. Soms moet 'n mens om hulp vra, vir uitkoms, ondersteuning of bloot 'n ligter lading.
Daar is baie aspekte in die lewe waar ons hulp nodig het. Dit is ook nie net met werk nie. Soms het ons leiding nodig oor verhoudings of rigting nodig wanneer ons by 'n kruispad staan.
Ek is altyd bly as iemand my om hulp vra – of dit nou raad of iets is wat ek vir hulle kan doen om die lewe bietjie makliker te maak. Wat kan ek sê? Dis vir my lekker as ek voel iemand het my nodig.
Net so wil God ons help. Hy wil ook weet ons het Hom nodig. En net so is daar ander mense wat jou liefhet wat ook wil help en betrokke wil wees in jou lewe.
Ons kan maar vir hulp vra. Dit beteken nie jy is swak nie. Dit beteken jy is bewus van jou menslikheid en die feit dat jy nie altyd al die balle op jou eie in die lug kan hou nie. En die beste is, die mense vir wie jy om hulp gaan vra, gaan tien teen een baie bly wees dat hulle iets vir jou kan beteken.
Gebed: Here, dis nie altyd maklik om vir hulp te vra nie. Maak nie saak watter soort hulp dit is nie. Help my om vir hulp te vra wanneer dit nodig is en nie skaam te wees daaroor nie. Amen.
 
	      