Dis nooit te laat nie: Om te verander - 28 Oktober 2025
Charlea Grey
Ja, God het julle verander en Hy het julle nuwe mense gemaak. Nou moet julle lewe soos nuwe mense. Julle moet waarlik lewe soos God wil hê en julle moet doen wat Hy wil hê. Efesiërs 4:24, Bybel vir almal
'n Mens hoor dikwels dat mense nooit regtig verander nie, dat ou gewoontes altyd weer kop uitsteek. Hoe lui die spreekwoord? 'n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar.
Verandering is oor die algemeen nie maklik nie, nog soveel te meer as jy iets aan jouself of jou leefstyl moet verander. Veral as dit 'n bewustelike verandering is.
Ja, natuurlik kan ons as mense groei en gevolglik begin verander – jy weet, stelstelmatig, met tyd, weens uitdagings en dinge wat met jou gebeur.
Maar soms moet ons self kies om te verander of kies om 'n verandering aan te bring in die manier hoe ons leef. En ek dink dit is dikwels waar dinge moeilik kan raak.
Tog lees 'n mens gereeld in die Bybel van mense wat groot veranderinge gemaak het in hul leefstyl en hul menswees.
Dink maar aan iemand soos Paulus wat Christene vervolg het, en ná 'n ontmoeting met Jesus sy lewe handomkeer verander het. Daar is byvoorbeeld die stories oor Matteus die gierige belastinggaarder en die korrupte Saggeus wat ook besluit het om eerder te gee as te neem. Daar is talle ander voorbeelde van mense in die Bybel wat verander het.
Die een ding wat hulle almal in gemeen het, is 'n ontmoeting met God. Een ding is dus seker, verandering kán gebeur, mits dit deur Christus is.
Hoe lyk jou lewe? Waar is verandering nodig? Jy is dalk nie 'n misdadiger wat skielik moet goed word nie, maar daar is dalk ander dinge in jou lewe wat regruk nodig het. Dalk beter en gesonder gewoontes? Dalk beter en gesonder verhoudings? Dalk moet jy jou fokus van een iets na ander dinge verskuif. Dalk wil jy weer begin kerkgaan en inskakel by 'n gemeenskap van gelowiges. Dalk moet jy opnuut begin prioritiseer sodat jy meer tyd kan maak vir mense of sake wat jou nodig het. Dalk moet jy gewoon leer om vir 'n slag jou selfoon neer te sit en teenwoordig te wees.
Wat ook al die verandering is wat in jou lewe nodig is, God sal jou help om dit raak te sien. God kan jou help om dit te implementeer. Daar is geen verandering wat te groot of te klein is nie. En met God is verandering altyd moontlik.
Gebed: Baie dankie Here, dat ek na U toe kan kom en vir hulp kan kom vra. Help my om positiewe veranderinge aan te bring sodat ek my lewe op koers kan kry en 'n beter lewe, nader aan U kan leef. Amen.
 
	      