Dis nooit te laat nie: Om iets nuut te leer - 30 Oktober 2025
Charlea Grey
Want dit is die Here wat wysheid gee, Hy sal vir jou leer om te weet en te verstaan.  Spreuke 2:6, Bybel vir almal
Ek het onlangs met 'n nuwe pos by die werk begin en een ding is seker, maak nie saak hoe lank 'n mens iets doen nie, daar is altyd kans om te leer.
Dit was vir my aanvanklik moeilik om my vorige pos te groet, want ek het gedurig gedink ek kan nog soveel doen, daar is nog soveel potensiaal in die dinge waaraan ek gewerk het. Maar ek het ook besef dat ek waarskynlik altyd so sal voel en dat 'n mens soms moet besef, dit is tyd om te laat gaan, oor te gee en vorentoe te beweeg.
Nou werk ek met ander mense, nuwe dinge en uitdagings en ek het in 'n baie kort tydjie sommer gou weer besef: Ek weet maar min en het nog baie om oor mense en die lewe te leer. Ook dat nuwe uitdagings 'n mens met tye sommer simpel kan laat voel.
Ek en my een vriendin het 'n woord daarvoor: "Loser"-kompleks.
Ons kry gereeld tye wanneer ons aan "loser"-kompleks ly. Dis wanneer ons régtig simpel voel oor iets wat ons gedoen het of nié gedoen het nie. En gewoonlik sit ons maar so bietjie in daardie gevoelens, tel onsself weer op, stof af en herinner mekaar dat een klein lessie iets bied wat dalk later 'n groter ramp kan keer.
Maak nie saak hoe oud jy is nie, daar is altyd kans om nog te leer. Oor mense, oor hoe ander mense dink, oor die lewe, oor dinge wat goed is en dinge wat sleg is. Wanneer 'n mens deur goeie en slegte tye gaan, is daar geleentheid om te leer en wyser weg te stap
God wil hê ons moet elkeen aanhou groei en leer en mense word wat na wysheid streef. Wanneer jy nie verstaan nie, wanneer jy nie weet nie, draai na God om vir antwoorde en begrip te vra. Dit kom immers van Hom af. Hy sal jou selfs laat beter voel as jy aan aan "loser"-kompleks ly.
Gebed: Baie dankie Here, dat ek by U kan aanklop vir wysheid en begrip wanneer ek deur die lewe se lesse moet werk. Dankie dat U ook vir my insig gee wanneer ek in die proses foute maak. Amen.
 
	      