Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Fases en seisoene: Soms verander als - 22 Oktober 2025

Charlea Grey 

Ek wil vir jou leer en vir jou sê hoe jy moet lewe, ek wil vir jou raad gee en ek wil kyk wat jy doen. Psalm 32:8, Bybel vir almal
 
Een oomblik is jou lewe vervelig en voorspelbaar. Die volgende is jou wêreld op sy kop.
 
Verandering is onafwendbaar, want soos ek vroeër die week ook uitgewys het, baie dinge is op die ou einde maar net tydelik en 'n fase wat verby gaan. Verandering is dus 'n tema waarmee ons altyd in een of ander tyd moet omgaan. En soos jy weet, is verandering vir party mense lekker, vir ander baie swaar. Veral die groot veranderings in die lewe.
 
Ek het al voorheen geskryf oor hoe uitdagend verandering vir my is. Dis omdat ek 'n beheervraat is. Ek verkies dit om self verandering en opwinding in my lewe te bestuur en so ver moontlik te beheer. Maar ai, ek moet erken, selfs die veranderinge wat ek kies of voor instem, knak my met tye. Dan kan ek myself sommer skop oor ek dinge vir myself gaan omkrap het.
 
Verandering is dikwels ook goed vir ons omdat dit ons baiekeer dwing om te groei. 'n Mens leer opnuut oor jouself, die lewe en ander mense. Dis dalk nie lekker nie, maar dit kan verrykend wees. Dit is ook dikwels in tye van verandering wat ons weer nader aan God beweeg – meer met Hom in gesprek tree, na Hom toe draai vir leiding, wysheid en sy hand van bewaring.
 
Ja, soms verander als in 'n mens se lewe en die verandering is soms ook nie noodwendig goed nie. Maar weet net, dat die dinge wat verander nooit groter sal wees as ons God nie. Geen siekte, of nuwe uitdaging, of “nuwe normaal” wat jy gewoond moet raak, is vir God te groot nie en daarom kan jy vir seker weet dat Hy langs jou is wanneer als verander.
 
God verander nooit nie.
 
Gebed: Here, dankie dat U daar is wanneer dinge rondom my verander. Dankie dat U groter as die verandering is en dat U nooit verander nie. Amen.
 
Previous article: Fases en seisoene: Soms is dit tyd vir 'n nuwe begin - 23 Oktober 2025 Prev Next article: Fases en seisoene: Soms is dinge stil, vervelig en voorspelbaar - 21 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.